Die Van Biljon-gesin van Reitz se lewe het onherroeplik verander toe hul sewejarige dogtertjie, wat minder as ‘n week siek was, oorlede is.
Elmé van Biljon, ‘n gr. 2-leerling aan die Laerskool Jordania in Bethlehem, is op Woensdag, 29 Mei oorlede ná ‘n blindedermoperasie wat op Donderdag, 23 Mei in die MediClinic Bethlehem uitgevoer is.
“Elmé het gekla van maagpyn en na vele toetse is haar blindederm verlede week Donderdag, verwyder. Nadat sy Vrydag ontslaan is het sy teen Sondag baie siek gevoel en het diarree ontwikkel. Ons het haar dadelik na die ongevalle-afdeling by die MediClinic in Bethlehem teruggeneem,” sê haar ma, Jolene van Biljon.
Ná verskeie toetse het die dokters haar weer Dinsdag, 28 Mei geopereer en haar onder verdowing gehou, en sy is vroeg Woensdagoggend oorlede.
“Dit voel so onwerklik, maar ons berus in die Here se wil en is dankbaar dat hy Elmé sewe jaar en vyf maande vir ons geleen het.”
Haar ouers beskryf haar as ‘n kind met ‘n groot en liefdevolle hart, sy was veral lief vir diere, die natuur en sou gereeld vir haar ma ‘n blommetjie in die tuin pluk.
Op skool het sy aan meeste sportsoorte deelgeneem en dit baie geniet om alles op die proef te stel.
Sy het dit ook geniet om kos te maak en het altyd hand bygesit in die kombuis of selfs buite op die gasbraai. Elmé en haar sussie, Miané (9), het elk ‘n beeshond as troeteldier gehad en sy was baie aan haar hond, Bubbles geheg.
Jolene het verskeie foto’s met VrystaatKroon gedeel waar Elmé met varkies, voëltjies, leeuwelpies en selfs hoenders in die arms staan. Haar gesiggie straal van vreugde en jy kan sien sy is baie gelukkig om die diere. Haar gesin en onderwysers is dit eens dat Elmé die lekkerste drukkies kon geen en hulle sal dit verseker mis.
Die Laerskool Jordania het ‘n roerende video as huldeblyk aan Elmé op hul Facebookblad geplaas. Die skool het hul skok en hartseer oor die skieklike afsterwe van Elmé betreur en haar as ‘n baie liefdevolle, dierbare en klein bondeltjie liefde met die mooiste oë beskryf.
Die familie wil graag hul hartlike dank teenoor al die personeel en dokters van die Bethlehem MediClinc uitspreek vir hulle ondersteuning en bystand in die moeilike tyd.
Haar begrafins word voorlopig vir Woensdag, 5 Junie beplan. Dit sal op Daniëlsrus plaasvind en sy sal op ‘n private plaas van vriende te ruste gelê word. Sy word oorleef deur haar pa, Tinus, ma Jolene en sussie Miané.