Oudredakteur môre ter ruste gelê met ‘die mooiste rose’

Tharine Hurter se gedenkdiens vind môre om 11:00 in die NG kerk Kroonheuwel-Noord plaas.


Huldeblyke stroom steeds van oraloor in ná die skielike afsterwe van Tharine Hurter (52), oudredakteur van Kroonnuus (nou VrystaatKroon).

Hurter is verlede Donderdag, 22 Junie, in ’n Bloemfonteinse hospitaal dood ná drie hartaanvalle in minder as ’n week.

Haar gedenkdiens word môre, 28 Junie, om 11:00 in die NG kerk Kroonheuwel-Noord gehou. Die diens sal deur ds. Pieter Mohr van Niekerk gelei word.

Corna Visagie, Hurter se skoonsuster, het die gedenkdiens gereël. Sy sê dat Hurter se dood steeds baie onwerklik voel en dat die familie baie hartseer is.

“Ons het vir Tharine die mooiste rose en blomme gekies; sy was bekend vir haar rose en pragtige tuin. Bome wat sy vir my gegee het, groei welig in my tuin – iets wat ek altyd sal koester. Mag Tharine die Hemelse rus geniet. Sy was kosbaar vir baie,” sê Visagie.

You need to be Logged In to leave a comment.