Die 2004-matrikulante van die voormalige Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool), asook van die voormalige Hoërskool Kroonstad (Blouskool), sal hul 20-jaarreünie tydens die derde Ignite and Revive-familiefees vier.
Die geleentheid sal van Vrydag 30 Augustus tot 1 September gehou word, en oudleerlinge word versoek om met hul groepe kontak te maak om dit by te woon.
Die fees se organiseerders is opgewonde om die hele gemeenskap, asook besoekers, op vanjaar se fees te verwelkom.
“Die Ignite and Revive-fees bring hoop vir ons dorp. Die fees is deur die gemeenskap, vir die gemeenskap,” sê Pieter van Rensburg van Ignite and Revive.
“ ’n Fees om te geniet, ’n fees om ’n verskil te maak en ’n fees waar ons ook eer aan die Here gee. ’n Fees met hope gees vir oud en jonk.”
Besoekers aan vanjaar se fees kan uitsien na ’n marksaal, teetuin en kosstalletjies, asook ’n biertuin met ’n grootskermtelevisie vir die rugbywedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks.
Boonop word die Kroonstad TENS-toernooi – met rugby, netbal en ringbal – ’n eerste keer aangebied.
Ander hoogtepunte is groot landbou-uitstallings, ’n jeugskou met ’n wye verskeidenheid aktiwiteite, handelaar-uitstallings en topgehalte-kunstenaars wat gehore oor die naweek sal vermaak.