Oudleerling skool se trots

Die vrouerugbyspeler Jakkie Cilliers het ’n trofee vir uitnemendheid van haar alma mater, die Laerskool Jordania in Bethlehem, ontvang.


Die vrouerugbyspeler Jakkie Cilliers het ’n trofee vir uitnemendheid van haar alma mater, die Laerskool Jordania in Bethlehem, ontvang.

Dié erkenning word aan oudleerlinge gegee spesifiek vir merkwaardige prestasie ná skool.

Cilliers was reeds op ’n jong ouderdom baie sportief en het op skoolvlak aan atletiek, netbal en krieket deelgeneem. Sy was ook ’n uitstekende 400 m-atleet.

Hierdie jong uitblinker­sportvrou, wat in 2013 ’n gr. 7-leerling aan Jordania was, het in 2018 aan die Hoërskool Witteberg matrikuleer.

In dieselfde jaar het sy haar nasionale debuut op die krieketveld gemaak toe sy die Vrystaatse senior vroue­krieketspan in ’n T20-wedstryd verteenwoordig het. Sy is ook vir die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom se eerste netbalspan gekies en het as atleet nasionaal meegeding.

In 2021 is sy vir die Luiperds-vrouerugbyspan gekies en het sy ook vir die nasionale vroue­rugbyspan uitgedraf.

Vanjaar is sy as die Luiperds se vrouerugby­speler van die jaar aangewys en was sy deel van die nasionale rugbyspan wat aan die wêreldbeker deelgeneem het.

In haar toespraak op die prysuitdelingsgeleentheid by Jordania aan die begin van November het sy leerlinge aangemoedig om aan te hou droom, om hul drome na te streef en om in hul drome te glo. Sy glo ook dat ’n mens altyd op die Here moet vertrou.

Dr. André Smith, hoof van Jordania, het die eerbewys aan Cilliers oorhandig. Sy het op haar beurt een van haar rugbytruie, deur haar geteken, aan die skool geskenk.

You need to be Logged In to leave a comment.