Oranjeniete eindig 2023 op hoë noot

Nadat die Hoër Meisieskool Oranje ’n uitsonderlike jaar op veral kultuurgebied in 2023 beleef het, het dié jaartal se gr. 12-leerlinge met hulle matriekuitslae die kroon gespan.


Nadat die Hoër Meisieskool Oranje ’n uitsonderlike jaar op veral kultuurgebied in 2023 beleef het, het dié jaartal se gr. 12-leerlinge met hulle matriekuitslae die kroon gespan.

’n Slaagsyfer van 100 % en ’n klasgemiddeld van 71,4 % (die derde hoogste in die laaste agt jaar) is behaal. Op die uitsondering van twee leerlinge kwalifiseer almal vir verdere studie aan ’n universiteit.

Die groep het verder toegesien dat Oranje as een van die tien topwiskunde skole in Vrystaat aangewys is.

Dié groep se gemiddeld is 71,9 % met 32 onderskeidings (uit 87 leerlinge) en ’n 100 %-slaagsyfer.

Onder Oranje se akademiese uitblinkers is die duxleerling Lara Potgieter wat die enigste matriek in sentraal Suid-Afrika is om met nege onderskeidings te slaag (uit ’n totaal van 34 451 leerlinge wat die eksamen afgelê het). Haar gemiddeld van 96,1 % is die derde hoogste deur ’n Oranje-leerling in die afgelope 15 jaar.

Nadine Heys en Kayla Olivier is twee van slegs 19 leerlinge in die Vrystaat om agt A’s agter hul name te skryf.

Daar is ander suksesverhale soos Danika Smith wat slegs een maand van haar matriekjaar by die skool was. Sy het verlede jaar drie breinoperasies ondergaan en het ondanks vele uitdagings steeds so byna met ’n B-gemiddeld geslaag.

Oranje het ’n besonderse 2023 op veral kultuurgebied gehad met die koor en die Con Spirito-sanggroep wat nasionale kompetisies gewen het en die debatspan en drama-groep wat provinsiaal koning ge-kraai het.

Op sportgebied het die skool se eerste tennis-, hokkie- en netbalspanne almal onder die topdrie in die land geëindig.

Oranje se 39 leerlinge wat ’n gemiddelde A-simbool behaal het, is op 24 Januarie op die skool se medaljefunksie vereer.

Die gewildste studiekeuse onder die leerlinge wat vanjaar by ’n tersiêre instansie gaan studeer, is ingenieurswese.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.