Optrede rondom erg besmette spruit bepleit

Die Heilbron-tak van AfriForum, in samewerking met die departement van water en sanitasie (DWS) en ’n afvaardiging van boere wat langs die besoedelde Elandspruit buite Heilbron boer, het die oorsprong van die besoedeling in die spruit ondersoek.


Die Heilbron-tak van AfriForum, in samewerking met die departement van water en sanitasie (DWS) en ’n afvaardiging van boere wat langs die besoedelde Elandspruit buite Heilbron boer, het die oorsprong van die besoedeling in die spruit ondersoek.

Hulle het op 22 Maart by die spruit ondersoek ingestel.

Dit kom nadat ’n dringende brief in November 2022 aan die DWS, die departement van omgewingsake, die Ngwathe- plaaslike munisipaliteit, die Fezile Dabi-distriksmunisipaliteit en landbouorganisasies gerig is oor die gesondheidsrisiko wat die Elandspruit se water weens die besoedeling inhou.

AfriForum sê die riool- en vullisstorting by die spruit is so erg dat diere nie die water kan drink nie, en ook weens die water vrek. Diere wat noodgedwonge deur die spruit moes loop se kloutjies het gevrot, en geen visse of ander lewe is in die spruit gevind nie.

Die onwettige stortingsterrein langs die spruit, asook rioolaanlegte in die omgewing wat nie in ’n behoorlike werkende toestand is nie, is as die oorsaak van die voortslepende besoedeling geïdentifiseer.

Die ondersoekspan vermoed dat die pompstasie wat die riool na die rioolaanleg moet voer, nie werk nie of nog nie voltooi is nie. Die pompstasie is geplunder en die terrein is met lang gras oorgroei. Een van die twee pompe is weg en kabels is gesteel.

Die DWS het met foto’s en aantekeninge onderneem om ’n verslag saam te stel en met die Ngwathe-munisipaliteit in samesprekings te tree oor die situasie by die spruit. Ngwathe het steeds nie op verlede jaar se brief reageer nie.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, is die situasie ontoelaatbaar.

“Nie net verloor die boere van hul vee nie, maar die waarde van hul grond sal verlaag weens die besoedelde water, wat eens ’n groot bate was,” sê Pretorius.

“Dit is ’n skreiende skande dat die munisipaliteit die situasie so laat handuit ruk het. Bevoegde mense sal aangestel moet word om die situasie, waarin mense- en dierelewe op die spel is, te beredder.”

You need to be Logged In to leave a comment.