Vrystaat Landbou (VL) het die onlangse uitlating van “Kill the Boer” deur Disebo Motaung, direkteur van samewerkende dienste van die Nketoana-munisipaliteit, baie sterk veroordeel.
Die munisipaliteit bedien Reitz, Lindley en Petrus Steyn.
Francois Wilken, die president van die VL, sê uitlatings soos hierdie, veral deur regeringsamptenare, kan nie geduld word nie en is betreurenswaardig.
Die organisasie het juis met die LUR van gemeenskapsveiligheid, asook die LUR van landbou, vergader om samewerking tussen partye te bepleit.
Hulle reken uitlatings soos hierdie skep onnodige verdeeldheid in ’n samelewing wat volgens alle aanduidings eintlik net vorentoe wil beweeg.
“Die landbou is die lewensaar van die Vrystaat,” het Wilken dit gestel.
“Ons moet gereeld hoor hoe daar van die sektor verwag word om meer werk te skep, om die platteland op te bou.
“Hoe kan daar egter van die boere verwag word om dié taak te vervul wanneer iemand in die rol van samewerkende dienste sulke uitlatings maak?”
Wilken het sy hoop uitgespreek dat toepaslike stappe teen Motaung geneem sal word.