Opstaan is ál manier vorentoe

Aan die begin van 2023 het alles wat in 2022 ontevreden­heid veroorsaak het, nie daar gebly nie – dit het saam die nuwe jaar ingestap.


Aan die begin van 2023 het alles wat in 2022 ontevreden­heid veroorsaak het, nie daar gebly nie – dit het saam die nuwe jaar ingestap.

Dink net hoe wonderlik die jaar sou begin het as beurtkrag, of die slaggate in ons paaie, of die korrupsie – noem maar op – in 2022 kon agterbly. Nee, ongelukkig het hierdie moeilikheid saam na 2023 gekom.

Hoe gemaak om die jaar nie sommer uit die staanspoor negatief en sonder hoop te begin nie?

Dit gaan nie help dat ons letterlik en figuurlik op die grond val en ’n “vloermoer gooi” oor alles wat nie reg is nie. Terloops, om neer te val – gesig in die grond – is nie ’n nuwe ding nie. Dit het ook in die Bybelse dae voorgekom. Ja, veral gelowiges lyk my het nogal daarvan gehou om neer te val met hul gesig in die grond. Letterlik en figuurlik, en om verskeie redes.

Ons lees byvoorbeeld van Esegiël en Johannes wat altwee uit vrees neergeval het weens visioene wat hulle gesien het. (Ek sou dalk ook.) Dan lees ons in Josua 7 van Josua wat moed verloor het nadat sy manne verslaan is en met sy gesig in die grond gaan lê het.

Saulus het neergeval toe ’n hemelse lig op hom skyn in Handelinge 26, en Jona het hom uit woede onder ’n skuiling buite Nineve gaan tuismaak. Elia het in 1 Konings 18 onder ’n besembos in die woestyn gaan lê; depressief, bang en moedeloos.

So kan ons talle voorbeelde uit die Bybel noem. Wat was God se reaksie dan op die neervallery? Dit is interessant dat die Here nêrens iemand maar net los dat hy bly lê nie. In elkeen van die verhale hoor ons die opdrag: Staan op.

“Mens, staan regop!” en “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond?” lees ons. Ook “Maar staan op, staan regop.”

“Word wakker! Eet! Anders sal die pad vir jou te lank word.”

Dít is wat Elia hoor. Hy moes dus opstaan om verder te kan loop. Aan Paulus verduidelik Hy: “Ek het aan jou verskyn om jou as my dienaar aan te stel.”

Dit is die oplossing vir die uitdagings in 2023. Staan op! Staan regop! Lewe, lewe voluit! Wat sien jy in elk geval met jou gesig in die grond? Staan op en leef.

  • Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord in Kroonstad.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.