Beurtkrag dryf ons teen die mure uit en is al die afgelope sowat 14 jaar ’n doring in elke Suid-Afrikaner se vlees. Al vir byna ’n dekade en ’n half word ons met die gevolge van die kragreus Eskom se uitdagings gebombardeer.
Dit voel onmoontlik om te dink daar was nog nie een mens in die land wat vir Eskom, wat op sy knieë gedwing is, ’n oplossing kon gee oor hoe om sy sake te beredder nie. Dit laat ’n mens besef die wanbestuur van die regerende party seëvier, en ’n blinde oog en ’n dowe oor word na voortslepende korrupsie gedraai.
Dit is kommerwekkend dat ’n bruikbare plan van opposisiepartye nog nie aanvaar is nie. Wie en wat staan in hul pad? Dit is skokkend dat oplossings gekniehalter word. Beurtkrag en wanbestuur verlam die ekonomie en elke landsburger wat in Suid-Afrika probeer terugploeg.
Hoeveel komitees, kommissies en ondersoeke moet nog ingestel voordat ’n kundige dinge gaan regruk? Dit is net weer ’n bewys van die magspel gevoer deur die regerende party, wat kastig na oplossings soek.
Ons weet daar is kundiges wat die lamsakkige gesloer en verlamming van Eskom kan hokslaan.
Waar is die opposisie wat die muur teen korrupsie moet vorm? Sit jul voet neer en maak ’n verskil.