Die riool wat jare lank al vrylik oral in Kroonstad vloei, bly vir inwoners ’n groot kopseer. Klagtes vanuit verskeie woonbuurte, en die kwessie dat die riool alles in die Valsrivier beland, vuur die kommer aan.
Dit nadat die rioolaanlegte van Kroonstad in 2016 opgeknap is en herstelwerk ook in 2021 teen ’n enorme bedrag gedoen is.
Chris Dalton, DA-raadslid in die Moqhaka-munisipaliteit, het na aanleiding van verskeie klagtes op Woensdag 24 Julie ’n oorsigbesoek aan die Kroonstad-rioolaanleg gebring.
Hy sê hoewel aansienlike verbeterings aan albei kante van die aanleg aangebring is, het nadere ondersoek ernstige onderliggende probleme getoon hier waar herstelwerk etlike jare gelede gedoen is.
“Baie van die mangate langs die pypleidings wat na die aanleg lei, is oop en riool borrel oral uit. Selfs rondom die aanleg is mangate oop, wat riool teen ’n kommerwekkende tempo in die Valsrivier laat vloei.”
Gabrie Grobler, ’n inwoner van Suidrand in Kroonstad, sê riool vloei al jare lank in dié woonbuurt. Dit veroorsaak onder meer dat strate en paaie toegegroei is onder bosse, wat dit ontoeganklik maak vir motoriste en vragmotors wat aflewerings in die buurt moet doen.
Die inwoners moet noodgedwonge met die stank van riool saamleef.
Die riool veroorsaak ook groot skade aan die infrastruktuur van woonhuise in die omgewing.
Die burgerregteorganisasie AfriForum het in ’n brief op 22 Julie ’n dringende versoek aan die Moqhaka-munisipaliteit gerig nadat talle klagtes oor die voortslepende rioolvloei ontvang is.
Die organisasie het ook Maandag watermonsters van die Valsrivier geneem en dit vir toetsing aan ’n onafhanklike laboratorium gestuur. Hulle het in die skrywe aangevoer dat die riool ernstige gesondheidsrisiko’s vir die gemeenskap inhou en erge omgewingsbesoedeling veroorsaak.
“In April het ons die riool in sy geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) onder die Moqhaka-munisipaliteit se aandag gebring.
“Tot op hede het die munisipaliteit geen daadwerklike poging aangewend om die probleem op te los nie,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland. Die munisipaliteit het 14 dae om op AfriForum se brief te reageer.
Dika Kheswa, woordvoerder vir die Moqhaka-munisipaliteit, het bevestig dat die munisipaliteit Maandag met AfriForum, die DA en VF Plus vergader het om die rioolkwessie te bespreek.
Die munisipaliteit het bevestig dat probleme soos verstopte dreine en pype weens gebrekkige afvoer en gemors wat in die stelsel beland, asook probleme by die rioolaanleg en infrastruktuur, die oorsaak van die rioolvloei is. Die munisipaliteit sou later die week met die kontrakteur wat aan die rioolaanleg werk, vergader om ’n oplossing te vind.