Drie landbouskole in die Vrystaat het werktuie ter waarde van 1,5 miljoen van die departement van basiese onderwys ontvang.
Die Hoërskool Trio in Kroonstad het ’n splinternuwe John Deere 5090E-trekker ontvang. Dié skenking is deur belanghebbendes in Suid-Korea moontlik gemaak. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, en Chull-joo Park, ambassadeur van Suid-Korea, het die Hoërskool Trio op Vrydag 14 Januarie besoek om die trekker amptelik aan die skool te oorhandig. Motshekga het aan die Suid-Koreaanse besoeker verduidelik dat landbou van kardinale belang vir Suid-Afrikaanse voedselsekerheid is.
“Die land is van kundige landbouers afhanklik, en daarom moet ons seker maak dat landbouleerlinge die regte opleiding kry,” het sy gesê. “Ons moet hulle op die hoogte hou van die nuutste tegnologie om die bedryf volhoubaar en sterk te maak. Landbou-opleiding is belangrik vir voedselsekerheid, ekonomiese bemagtiging en ontwikkeling.”
Die afgevaardigdes het Trio se verskillende landbouterreine besoek, en onder meer gekyk hoe ’n hommeltuig lande besproei.
- Die Hoër Landbouskool Jacobsdal – ook as Landboudal bekend – en die Landbouskool Unicom het ook werktuie van die department ontvang.