Om padveiligheid op Frankfort te bevorder, het die AfriForum-tak op die dorp spoedhobbels en kennisgewingborde in die middedorp opgerig.
Gedurende November is die projek om padveiligheid te bevorder van stapel gestuur nadat die tak verskeie klagtes van besorgde inwoners ontvang het rakende motoriste se verontagsaming van ’n stopteken by ’n besige kruising in JJ Hadebestraat.
Dié roekeloosheid het verskeie motorongelukke tot gevolg gehad en ná ’n gemeenskapspetisie om ’n spoedhobbel op te rig is die projek van stapel gestuur.
Die organisasie het hulle eers tot die Mafube plaaslike munisipaliteit gewend en in ’n skrywe, vergesel deur die getekende petisie, en daarop aangedring dat die munisipaliteit spoedhobbels in die belang van padveiligheid aanbring.
Die munisipaliteit het nie reageer nie en dus die tak genoop om self in te spring om die spoedhobbels op te rig.
Volgens Christa Ikking, AfriForum se streekskoördineerder vir die Hoogland-streek, spreek die munisipaliteit se onbetrokkenheid by hierdie projek boekdele.
“Ons kan sien dat die munisipaliteit nie omgee oor die gemeenskap se veiligheid nie en glad nie gehoor gee aan die belange van die gemeenskap nie.
“Die munisipaliteit werk ook nie saam met die gemeenskap om die toestand van die dorp te verbeter of om padveiligheid hier te bevorder nie,” sê sy.
“AfriForum sal aanhou om dié soort projekte aan te pak, aangesien die plaaslike munisipaliteit geen belangstelling toon om die dorp skoon en veilig vir inwoners te maak nie,” sê Johan Ungerer, voorsitter van AfriForum se Frankfort-tak.