’n Skrywer en motiveringsblogger van Engeland, Mariann McKay, het onlangs die leerlinge van haar alma mater, die Laerskool Brentvale, toegespeek oor hoe omstandighede ’n mens nie maak wie ’n mens is nie – dit is eerder belangrik wat jy word uit jou omstandighede.
Dié oud-Kroonstadter, wat die skrywer van die boek Broken and Made Whole en ’n ma van twee kinders is, woon al die afgelope 23 jaar in Engeland.
Tydens haar besoek het sy besluit om ’n GoFundMe-projek te stig met die doel om geld vir die skool in te samel sodat die veiligheidshekke en speelruimte opgeknap kan word.
Reuben Borman, hoof, sê hy is dankbaar vir die mooi gebaar en is verbaas oor hoe ander lande die projek ondersteun om ’n verskil op ’n plattelandse dorpie in Suid-Afrika te maak. Altesaam R10 000 is reeds ingesamel.
Belangstellendes en skenkers kan Brentvale se Facebook-blad, Brentvale Primary, of dié van Mckay, Pretorius-McKay Mariann, dophou.
Mckay se boek met ware lewensverhale is teen R150 by Monique Slabbert, ’n onderwyser aan die skool, te koop.