Nodeloos om te sê, Suid-Afrikaners het letterlik en figuurlik nie krag nie.
Danksy uiters swak bestuur van Eskom en ’n regering wat doodeenvoudig ’n blinde oog gooi oor ’n sukkelende land, word die man op straat weer op sy knieë gedwing.
Eskom se onvermoë het die afgelope week bykans in almal se gesigte opgeblaas toe die kragreus met fase 8-beurtkrag begin dreig.
Alle sektore het die enorme invloed gevoel.
Voedselsekerheid is in gedrang en die landbousektor het gewaarsku dat veral besproeiingsboere swaar gebuk gaan onder Eskom se onvermoë.
Sukkelende selfoonnetwerke en internetdienste weens die kragonderbrekings het verseker ’n invloed op die meeste mense se werkslading gehad.
Mense met mediese uitdagings wat van suurstofmasjiene afhanklik is, was benoud en moes hul hand diep in hul sak steek vir oorlewing.
En so gaan die lys eindeloos aan.
Wie is die persoon wat sommer so nonchalant die ligte laat aan- en afsit, wat die hele Suid-Afrika op sy knieë dwing?
Hier steek baie meer in as net die onvermoë van bestuur en swak instandhouding.
Iewers gaan iemand moet halt roep, maar wanneer en wie?