Oos-Vrystaters blink in matriekeksamen

Leer hier meer van die leerlinge wat uitgeblink het in die matriekeksamen.


8 Onderskeidings vir Marita, al het sy net 5 verwag

Marieta van Tonder

Verras. Dít is hoe Marita van Tonder Donderdag gaan
reageer op die nuus dat sy agt onderskeidings in die matriekeksamen ingepalm
het – veral as sy sien dat sy in wiskunde óók een behaal het.

Marita, van die Hoërskool Reitz, het vir vyf onderskeidings
gehoop, maar is deur haar harde werk met ’n verder drie beloon.

Sy het in Afrikaans (huistaal) en Engels (eerste
addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde,
rekenaartoepassingstegnologie, drama en lewenswetenskap onderskeidings behaal.

Marita, wat vanjaar fisioterapie aan die Universiteit van
die Vrystaat gaan studeer, sê sy is seker dat sy vyf onderskeidings sal behaal,
maar wiskunde “sal beslis nie een van hulle wees nie.”

“Ek hoop vir vyf onderskeidings in Afrikaans,
lewensoriëntering, lewenswetenskap, drama en rekenaartoepassingstegnologie,
maar beslis nie wiskunde nie.”

Sy sê harde werk van dag een af, ’n gebalanseerde
leefstyl en goeie voorbereiding is haar resep tot sukses.

Marita sê sy het dwarsdeur die jaar hard gewerk en sodoende
haar goed voorberei vir die eindeksamen.

Marita sê sy is dankbaar vir haar ouers, Hannes en Freda
van Tonder, familie, vriende en onderwysers wat tot haar sukses bygedra het.

Lees hier meer.

– Kaydene Davids

Harde werk beloon met onderskeidings in ál 8 vakke

Isabel Jardin

Isabel Jardim van die Hoërskool Paul Erasmus glimlag
vandag breed nadat sy agt onderskeiding in die matriekeksamen behaal het.

Isabel, wat vanjaar plantkunde aan die
Noordwes-universiteit op die Potchkampus gaan studeer het in al agt haar vakke
onderskeidings behaal.

Sy het in Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele
taal, wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde, geografie, lewenswetenskap en
fisiese wetenskap onderskeidings behaal.

Isabel het vyf onderskeidings verwag, maar op agt gehoop.

“Ek glo nie ek sal agt onderskeidings behaal nie. Ek sal
baie verheug wees indien ek wel.”

Isabel se harde werk gedurende die jaar het beslis vir
haar vrugte afgewerp.

Lees hier meer.

– Kaydene Davids

Cecile glo in balans

Cecile Bester

Cecile Bester (18) van die Hoërskool­ Ficksburg, ’n jong
mens wat glo in balans, het onderskeidings in al agt haar vakke behaal.

Haar vakke is Afrikaans (huistaal), Engels (eerste
addisionele taal), wiskunde, lewensoriëntering, rekeningkunde,
rekenaartoepassingstegnologie, lewenswetenskap en fisiese wetenskap.

Cecile, wat ook vir die skool hokkie en tennis gespeel
het, gaan B.Sc. plantpatologie aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

“Ek gaan plantpatologie studeer, want ek kom uit ’n
landbou-familie en is baie lief vir die natuur. Dit is waar my hart is. My hart
is op die plaas. My pa, Nico, verkoop kunsmis,” sê sy.

Haar ma, Annene, is ’n wiskunde-onderwyser aan die
Laerskool Ficksburg.

Volgens Cecile gaan sy dit mis om by die huis te wees.

Op skool was haar gunstelingvak biologie. Daar was geen
vak waarvan sy nie gehou het nie.

Haar wenresep is om ’n balans te handhaaf tussen haar
skoolwerk en sport.

“Balans is verskriklik belangrik en ek het probeer om tyd
te maak vir my vriende en sport. Jy moenie die ander aspekte van jou lewe
afskeep nie. Ek was in Die Voortrekkers ook en ons het baie gaan stap. My raad
aan vanjaar se matrikulante is om hul drome na te streef. Dan sal hulle die
jaar geniet. Dit gaan vinnig verby.”

Cecile het nog ’n jonger broer, Hendrik (16), en suster,
Marelie (14), op skool.

– André Damons

Witteberger gaan in Duitsland studeer

Leandi Venter

Leandi Venter van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem het
op agt onderskeidings gehoop en dít is presies wat sy in die eindeksamen behaal
het.

Sy het in al haar vakke – Afrikaans (huistaal), Engels
(eerste addisionele taal), Duits (tweede addisionele taal), visuele kuns,
fisiese wetenskap, lewenswetenskap, lewensoriëntering en wiskunde
onderskeidings behaal.

Leandi beplan om vanjaar medies in Duitsland te studeer
waar sy vroeër ’n uitruilstudent was.

Sy sê voordat sy haar keuse gemaak het om in Duitsland te
studeer het sy baie hieroor gebid.

“Die Here het gewys dít is waar ek moet wees. Sodra ek my
uitslae kry, gaan ek by die universiteit in Berlyn aansoek doen.”

Sy sê hoop om in die volgende paar weke ’n antwoord te
kry sodat sy in Maart met haar mediese studie kan begin.

Lees hier meer.

– Kaydene Davids

Etienne se agttal nie vir hom verrassing

Etienne Erasmus

Ná ’n harde en taai matriekjaar wil Etienne Erasmus van
Bethlehem in die Vrystaat graag eendag dokter as titel hê.

Dié 18-jarige het verlede jaar sy matriekjaar by
Grey-kollege in Bloemfontein voltooi en die agt onderskeidings wat hy behaal
het, is ’n bewys van sy harde werk.

Dit was nie vir hom ’n verrassing dat hy in al sy vakke,
Afrikaans, Engels, wiskunde, lewenswetenskap, rekeningkunde, Duits,
lewensoriëntering en fisiese wetenskappe, onderskeidings behaal het nie.

“Buiten wiskunde was die res van die eindeksamen redelik
maklik,” sê hy.

“Jy leer mos maar dieselfde werk in die rekordeksamen, so
die eindeksamen is net ’n herhaling daarvan.”

Hy sien uit daarna om vanjaar medies aan die Universiteit
van die Vrystaat te begin studeer.

“Ek is nog onseker oor waarin ek wil spesialiseer, maar
ek sal in die volgende vyf jaar kyk waarin ek die meeste belangstel.”

Hy sien ook daarna uit om ’n student te wees.

“Ek dink om op jou eie te wees en ’n bietjie minder onder
pa en ma se vlerk gaan baie lekker wees.”

Lees hier meer.

– Elsje du Toit

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.