Oorwinning skets haar kunstalent

Lee-Ché Kruger (17) van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, is in die Nasionale Eisteddfod-akademie se Young Artist-kompetisie as die algehele wenner in die gr. 12-afdeling aangewys.


Lee-Ché Kruger (17) van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, is in die Nasionale Eisteddfod-akademie se Young Artist-kompetisie as die algehele wenner in die gr. 12-afdeling aangewys.

Kunsleerlinge van oor die land heen het in dié kompetisie meegeding. Dit was die eerste kompetisie waaraan Lee-Ché deelgeneem het.

Sy sê hoewel sy uit ’n kunssinnige huis kom, was dit Alkaline de Lange, ’n kunstenaar in eie reg, wat haar leer skets en teken het.

“Tannie Alkaline was my inspirasie en sy het my aangemoedig om te skets, tog het my kunstige broer Leon ook ’n groot rol in my liefde vir kuns gespeel. Hy kan ongelooflik mooi teken en is beslis ook ’n inspirasie vir my.”

Lee-Ché verkies om in stilte buite in die natuur haar kreatiwiteit en denke vrye teuels te gee.

“Die natuurlike lig en singende voëls en rustigheid van die natuur speel ’n rol in my werke.”

Sy beplan om volgende jaar kuns te studeer en hoop om dan ’n kunstenaarsloopbaan te volg.

Lee-Ché speel graag in haar vrye tyd kitaar en geniet dit om te sing.

Sy sê ook dat haar geloof die kompas van haar lewe is.

You need to be Logged In to leave a comment.