Ooi wat bly lam as ramkat erken

’n Vleismerino-stoetooi van die plaas De Rust buite Kroonstad is aangewys as een van die oudste geregistreerde ooie van dié ras, wat die meeste lammers tot nog toe gelewer het.


’n Vleismerino-stoetooi van die plaas De Rust buite Kroonstad is aangewys as een van die oudste geregistreerde ooie van dié ras, wat die meeste lammers tot nog toe gelewer het.

Dié ooi, wat nou al as die VrystaatKroon-koerantooi bekend is, se eienaar, Franco von Wielligh, is op 30 Mei die goeie nuus deur die Suid-Afrikaanse Vleismerino- (SAVM) genootskap meegedeel.

Die ooi het al 29 lammers gehad, waarvan sy 23 gespeen het, en sy is nou amptelik die oudste geregistreerde SAVM-ooi wat die meeste lammers met natuurlike dekking gelewer het.

Von Wielligh het die ooi, wat in Augustus 2010 as een van ’n tweeling gebore is, in 2016 as sy eerste stoetooi op ’n produksie­veiling aangekoop. Sy doel was om die beste vleismerinos te teel.

“Die ooi het einde verlede jaar kanker in haar een oog gehad, en daardie oog is deur dr. Nicolaas Bester van Kroonstad verwyder,” sê Von Wielligh.

“Die operasie was suksesvol en sy is andersins in ’n puik kondisie.

“Ek wil haar nog een keer laat lam in die poging om die hoogste rekord op te stel.”

Die ooi is daarvoor bekend dat sy verskeie twee, drie- en vierlinge sonder moeite grootgemaak het. Sy het slegs een keer net een lammertjie op ’n slag in die lewe gebring. Tans maak sy twee lammers groot wat op 31 Maart gebore is.

In 12 jaar was dit die 13de keer dat sy in Maart gelam het.

Verskeie van die ooi se lammers is al as Vrystaat-superlamkampioene en wolkampioene gekroon.

Sy was 20 maande oud toe sy die eerste keer gelam het en is as ’n driester-ooi geklas, wat beteken sy is onder die vyf top-ooie nasionaal wat vrugbaarheid betref.

“Die Suid-Afrikaanse Vleismerino-ras is bekend vir vrugbaarheid, en dié ooi is net weer ’n bewys daarvan,” sê Manie Lombard, teler van dié uitsonderlike ooi.

You need to be Logged In to leave a comment.