Onthou, waardeer die tyd van stil word, terugdink en verootmoediging

Lydenstyd – ’n tyd vir stil word, terugdink en verootmoediging.


Lydenstyd – ’n tyd vir stil word, terugdink en verootmoediging.

Wanneer ’n mens in die winkels loop, is al wat jy sien ’n magdom Paaseiers en Paashase. Winkels se bakkerye is reeds besig om genoeg paasbolletjies te bak vir die groot Paasnaweek.

Dan wonder ek, as ek so terugdink na daardie dag op Golgota en ek sien die bloed en die wonde, die skaduwee van ’n kruis wat my trotse hart breek . . . het Pase dan regtig net nog ’n langnaweek vir ons geword? Net nog ’n geleentheid om die kinders in te laai en see toe te vat? Of gaan dit oor iets anders? Iets wat ons verwêreldse samelewing dalk lankal vergeet het, of afbreek as ’n sprokiesverhaal.

Die groot Lydensweek, wat op Maandag 25 Maart begin het, gaan juis daaroor dat ek my hart instel op wat nog moet kom, asook my gees.

Die week is ’n besonderse geleentheid om weer stil te raak met die Geskrifte in my hand, die offer en Lydensweg van Christus diep te bepeins en met nederigheid en algehele afhanklikheid aan Hom my skuld en skande te erken; vergifnis te vra.

Dit is ’n tyd van stil word, terugdink en verootmoediging. Dan lyk die Paaseiers en Paashase nie meer so vrolik nie, want die gebeure van Vrydag om 15:00 was nie vrolik nie. ’n Jong man van Galilea het met sy liggaam en sy bloed betaal vir die wêreld se swakheid, ons onreinheid; die skuld van sonde vir ewig op Homself geneem sodat ons gered kan word. Dit is die verhaal van Pase wat ons moet onthou, wat ons moet vier.

Die skadu van die kruis lê te swaar op ons om dit te verruil vir ’n sjokoladehaas. So mooi ook vasgevang in Lied 391: “As ek beangs en skuldig voor U bewe, dan laat U kruis, o Heer, my hoop herlewe. Aan U, o Heiland, Leidsman, Vors van Vrede, my dankgebede!”

) Ds. Domonic Basson is van die NG kerk St. Helena, Welkom.

Hoop vir die week

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.