Ons moet ook kan gee

Vrygewigheid bring vreugde. Dink aan jou lewe asof dit ’n pakstoor is.


Vrygewigheid bring vreugde. Dink aan jou lewe asof dit ’n pakstoor is.

Jy ontvang goedere en daar is lewe soos mense die goed indra en jou lewe vol maak. Tog as jy uitgee, is daar ook baie vreugde. Daar word geraas, gelag en gelaai soos jy uit jou stoor dinge uitgee.

Sodra jy uit jou pakhuis dinge gee, is daar weer plek om dinge te ontvang.

Dus is jou lewe ’n deurgangsplek vir vreugde, want jy ontvang en jy deel uit.

Ons Vader is ’n vrygewige God, in Johannes 1:16 staan uit sy oorvloed het ons genade op genade ontvang.

Ons was die vyande van God, onregverdig en ellendige mense wat volgens die boek van Romeine die dood moes ontvang het. Vir ons het Jesus mens geword. Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees. – 2 Korintiërs 5:21.

Tog moet ons een ding goed verstaan; Filippense 2:5 – Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. Ons kan nie verwag om al hierdie genade op genade van die Vader te ontvang, en nie self vrygewige mense te wees nie.

Vrygewigheid kom nie vanself nie, ons as mens is van nature inhalig en wil vashou en nie uitbeweeg nie. Dit is dan juis die gedrag wat ons pakhuise se vreugde steel.

Jy kan nie met vreugde in Vader God se Hand leef as jy nie ook graag deel en gee nie. Dan is jy soos ’n pakhuis sonder inhoud of vol van dinge wat net stof vergader.

  • ’n Mens se lewe moet oop wees vir ontvang, uitdeel en gee. ’n Plek vol lewe, ’n deurgangslewe. Els is ’n leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.

You need to be Logged In to leave a comment.