Lees: Psalm 121
In die Doodsvallei-woestyn van Kalifornië is daar onder meer twee soorte voëls genaamd die kolibrie en die aasvoël.
Die kolibrie is ’n voëltjie wat op soek is na die soet uit die bloeisels van die kaktusplante wat in daardie wêreld groei.
Hier by ons is dié voëltjies bekend as suikerbekkies, wat oraloor met hul lang snawel na nektar uit die mooiste blomme soek.
Jy vind hulle by die mooi van die lewe, en hulle is gewoonlik kleurige voëltjies.
Die aasvoëls kry jy egter by die verrotte karkasse in daardie woestyn. Hulle leef van die afval van die lewe.
Kaalkop kry jy hulle by die stink van die lewe.
’n Aasvoël se bek is kragtig en word gebruik om die vel van die dooie dier af te skeur. Dié voëls het goeie sig om die aas van baie ver te kan gewaar.
Hulle is beslis nou nie die mooiste voëls nie en jy vind hulle nie by die mooiste van die lewe nie. Hulle teer op die slegte – die dood.
Hier is ’n vergelyking te tref met ons lewe.
Ons kan soos die aasvoël die nuusblaaie fynkam en vaskyk in die negatiewe nuus van moord, ekonomiese resessie, verhoogde elektrisiteitsrekeninge, al die verskillende fases van beurtkrag, korrupsie en vele ander negatiewe nuusberigte – ons kan bly vaskyk teen die foto’s wat al die negatiewe van die lewe uitbeeld. En dit kan ons in vrees en mismoedigheid laat leef.
Ons moet besluit hoe ons elke dag gaan benader. Weet egter: Dit is God wat jou beskerm in jou omstandighede.
Dit is Hy wat jou beskerm, maak nie saak wat met jou gebeur nie. Baiekeer voel dit vir jou asof Hy nie daar is nie, maar dit is nie waar nie.
Te midde van alles bly God daar en is Hy die een wat tree vir tree saam met ons loop.
- De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.