AfriForum het die afgelope paar weke landwyd deelgeneem aan die openbare raadplegingsproses oor Eskom se voorgestelde 36,15%-elektrisiteitstariefverhoging.
Die burgerregteorganisasie het op die Vrystaatse raadplegingsessie op 25 November geskrewe kommentaar oor dié verhoging ingedien. AfriForum het in sy formele kommentaar, wat in Bloemfontein voorgelê is, die “buitensporige tariefverhoging” teengestaan.
Die organisasie wys daarop dat daar nie van kragverbruikers verwag kan word om vir Eskom se jarelange wanbestuur pa te staan nie.
Eskom het sy voorgestelde tariefverhoging vir die volgende drie jaar aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voorgelê. Die publiek het tot Woensdag 4 Desember die geleentheid gehad om kommentaar daarop te lewer.
AfriForum het tydens die openbare raadplegingsproses die ernstige ekonomiese en maatskaplike gevolge van die voorgestelde tariefverhoging uitgelig en beklemtoon hoe dit kwesbare gemeenskappe, veral laeinkomste-huishoudings, wat reeds ’n groot deel van hul inkomste aan elektrisiteit bestee, buitensporig sal belas. Deel van die betoog is dat stygende elektrisiteitskoste die dryfveer van koste-inflasie is, wat die prys van noodsaaklikhede verhoog en sodoende armoede en ongelykheid kan vererger.
“Dit is verregaande om van die inwoners van die Vrystaat te verwag om bykans 40% meer vir elektrisiteit te betaal, gegewe dat lewenskoste reeds oor die afgelope paar jaar eksponensieel verhoog het,” meen Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.
“Landsburgers kan nie daarmee gelas word om die situasie by Eskom te probeer beredder ná die growwe wanbestuur van die kragvoorsiener oor die afgelope paar jaar nie,” sluit hy af.
“Nersa moenie net strenger nakoming van regulatoriese raamwerke afdwing nie, maar moet self ook omsigtigheidstoetse by Eskom doen, wat sal verseker dat wettige uitgawes slegs by die tariefberekeninge ingesluit word,” sê Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake van AfriForum.
Die organisasie sal intussen die uitkoms van die openbare raadplegingsproses noukeurig moniteer en optree indien onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word.