Rubriek: Onooglikheid kan steeds waarde dra

Ek staar na ’n huis in ons woonbuurt wat deur die loop van die afgelope jaar opgeknap word. Die dubbelverdiepinghuis word ’n moderne nuwe baadjie aangetrek en staan pronkerig uit in die twee skakerings van grys en staal-afwerking.


Ek staar na ’n huis in ons woonbuurt wat deur die loop van die afgelope jaar opgeknap word. Die dubbelverdiepinghuis word ’n moderne nuwe baadjie aangetrek en staan pronkerig uit in die twee skakerings van grys en staal-afwerking.

Die skoon en vars lyne tref dadelik die oog.

Dit skep werklik ’n indrukwekkende prentjie en ek vermoed ek is amper meer opgewonde as die eienaars om die eindproduk te aanskou.

Die nuwe heining is nog in wording en ek glo die prentjie sal pragtig afgerond wees sodra alle verbeteringe voltooi is.

Dit laat die ander huise in die straat maar ’n bietjie vaal om die kiewe lyk, en ’n mens kan sien hoe verbygangers met algehele verwondering na dié stylvolle woning loer.

Ek dink so by myself: Ek wonder wat die hele spulletjie die eienaars uit die sak gejaag het? Ons leef immers in taai ekonomiese omstandighede, sodat die meeste mense die rande maar drie keer moet omdraai. Dan praat ons nie eens van die onlangse stand van die inflasiekoers wat ons behoorlik na ons asem laat snak nie.

’n Paar dae later merk ek op dat van die pilare by die huis bloedrooi geverf is en dat die heining ’n bietjie afsteek teen die res van die asemrowende huis.

Is ons as mens nie maar meestal soos ’n nuut opgeknapte huis waar ons die wonderlike front voorhou nie? Het ons nie maar almal ’n skelrooi pilaar en amper onooglike heining wat vir party mense aanneemlik is en vir ander nie?

Tekortkominge in die lewe sal ons altyd hê. Nie dat daar fout is met tekortkominge nie; ons bly immers net mens wat volmaaktheid probeer nastreef.

Kort daarna vra iemand anders my of ek gesien het die huis is voltooi en hoe mooi die skelrooi pilare is, en die heining se ligte wat saans die kasarm in ’n sprokie omtower.

Net daar besef ek weer: Dit wat ek dalk as tekortkominge beskou, kan juis dit wees wat ander mense in my bewonder.

Dalk is die skelrooi pilare en amper onooglike heining soms nodig om die groter prentjie in fokus te plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.