‘Onderwysers dra by tot sukses’

Sy is geseën met die vermoë om maklik te kan leer, het baie hard gewerk en is deur top-onderwysers ondersteun.


Sy is geseën met die vermoë om maklik te kan leer, het baie hard gewerk en is deur top-onderwysers ondersteun.

Só sê Catherine Hyett (18) van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem oor die agt A’s wat sy in die eindeksamen in 2021 behaal het. Haar onderskeidings is in Afrikaans (huistaal), Duits (tweede addisionele taal), Engels (eerste addisionele taal), fisiese wetenskappe, lewensoriëntering, lewenswetenskappe, wiskunde en ingenieursgrafika en -ontwerp.

Catherine sê sy gaan vanjaar BCom Geoktrooieerde Rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom studeer. Daarna sal sy oor ’n loopbaan besluit.

“My resep is maklik leer, maklik onthou en uitstekende onder­wysers. Juffrou Selbie Swart, fisiese wetenskappe, en juffrou Annemarie de Jongh, wiskunde, is al ’n paar jaar die beste in die Vrystaat op hul vakgebied. Hulle werk dag en nag. Hulle het baie hard gewerk om ons te help.”

Sy sê die onderwysers het baie ekstra klasse aangebied en baie vraestelle uitgewerk. ’n Ander besonderse prestasie in haar matriekjaar was toe sy in Mei van Robbeneiland na Blouberg­strand geswem het. Sy het die afstand van 7,4 km in 2 uur 26 minute voltooi.

“Om hiervoor te oefen, het ek baie in die Saulspoortdam buite Bethlehem geswem,” sê sy.

“Die koue was erger as die uitputting. Ek het darem ’n duikpak aangehad en ons het ’n sonar op die boot gehad wat die haaie weggehou het. Ek het alleen geswem en my pa was lid van my ondersteuningspan op die boot.”

Haar ouers, Martin en Adrianne­, ondersteun haar in alles wat sy aanpak. Sy is die oudste van vier kinders.

Haar gesin besit die koerant Ystervark in Bethlehem, asook die publikasie Issue in Bethlehem en Bloemfontein. Sy het soms vir dié koerante geskryf. Sy geniet dit ook om te lees.

Catherine sê haar motivering is om haar gawes, vermoëns en uithouvermoë te gebruik om die Here te eer.

“Dit is nie ek wat die eer moet kry nie. Ek is nie gekies om met ’n great brein gebore te word nie. Dit is net genade.”

Sy sê sy wil nie oorsee werk nie, maar in Suid-Afrika bly. As almal weggaan, is daar niemand om die land op te bou nie.

Sy wil die Hoërskool Witteberg ook bedank vir die baie moeite wat gedoen is om die matrieks deur die koronavirus­pandemie te ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.