Nadat ek onlangs die begrafnis van ’n seun moes bywoon, wat absoluut hartverskeurend was, kon ek nie help om ’n diepe gevoel van verlies te ervaar nie.
’n Jong man wat ’n erge stryd teen ’n ongekende siekte moes veg. Wat soveel uitdagings moes trotseer.
Dit laat my oor die afgelope jaar dink, en ek besef dat 2024 vir seker vir my as die jaar van verlies sal uitstaan. Sommer vroeg in die jaar het ek ’n kollega verloor, en voor Junie nog twee.
Die jaar word gekenmerk aan die verlies van familielede, vriende, kennisse en selfs troeteldiere. Daarby het die koerantbedryf hom op stormagtige waters bevind, wat weer onsekerheid kom aanwakker het.
Dan praat ek nie eens van al die vreemde siektes wat by mense kop uitgesteek het nie, en hoe mense daagliks hul pyn en agteruitgang moet ervaar. Vriende wat wegtrek en sakeondernemings wat hulle deure sluit, het ook tot die enorme gevoel van verlies bygedra.
Die wêreld is op sy kop en die jaar was rof. Die lewe het vir seker ’n ander dinamika en laat my met ’n gevoel van verlies op verlies.
Miskien ervaar ek die verliese op ’n baie dieper vlak juis omdat ek ’n ander fase van my lewe betree.
Maar oor die jare heen het ons geleer: Ná enige verlies, of selfs krisis, is daar altyd weer nuwe groei of herstel wat plaasvind.
Ek besef dat die woestyn-tydperk waarin ons erge verlies ervaar, weer nuwe en miskien ’n anderse soort groei sal meebring.
Dit is juis in dié tydperke dat ons dieper moet delf sodat ons gereed kan maak vir die nuwe groei of verandering wat kan plaasvind.
Die mens is immers baie aanpasbaar.
Gebruik dus die verliese om te groei en voor te berei vir die fase en, heel moontlik ’n anderse toekoms, wat voorlê.