Ek woon nou die dag ’n geselligheid by en staan lekker en gesels met iemand van ’n ander streek.
Natuurlik bespreek ons die vreemde weerpatrone van die afgelope maand.
“Dit is van die een uiterste na die volgende,” sê my gespreksgenoot.
“As ons nie erge droogte ervaar nie, dreig vloede met die baie reën.”
Ons betrag die reëndruppels wat teen die ruit afloop.
Albei van ons weet dat baie water weer gaan val.
“Daar by ons loop die waterstrome soos riviere. Alles is verspoel, selfs die paaie.
“’n Maand gelede het hael so groot soos tennisballe by ons geval. Dit het natuurlik verwoesting gesaai. Tog vat ek veel eerder die baie water en reën as die droogte. As daar nie water is nie, is daar nie water nie.”
Ek knik heel instemmend saam, want alles het inderdaad water nodig om te oorleef.
Tog is groot dele van die land versadig van die water.
Daagliks word waarskuwings op die sosiale media en ander platforms uitgereik oor paaie wat oorstroom en landerye wat verspoel.
Inwoners langs riviere moet hul huis ontruim, en vloede bly ’n moontlikheid.
Ek kan nie help om aan die Bybelverhaal van die sewe maer jaar en sewe vet jaar te dink nie.
En ek wonder: Is ons nou in die maer jare, of die vet jare?
Dit voel tog asof ons die jare van oorvloed betree het.
Die aarde is gevoed, en nou kan sy mos vir ons goed wees.
Of jy nou in jou lewe in die dor jare of die jare van oorvloed is, omhels jou omstandighede en ervaar die goedheid daarvan – deur die storms en die sonskyndae.