Lees Lukas 2:1-7.
Daar was nie verblyf in Bethlehem vir Josef en Maria nie. Die herbergier gee egter vir dié hawelose gesin om. Ondanks die lewensomstandighede en ’n vol herberg, gebruik hy dit nie as verskoning om hulle weg te wys nie.
Hy verwyt Josef ook nie omdat hy so laat opdaag nie. Hy gee om en hy laat die stal skoonmaak sodat mense daarin kan oornag.
Deur sy ontferming vind redding plaas: Sy (Maria) het haar eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê, omdat daar geen plek in die herberg was nie. (Lukas 2:7).
Die herbergier se oop hart maak dit moontlik dat die Verlosser van die wêreld onder sy dak gebore word.
Daar is net een sin in die Bybel oor hom, maar voor Christus en ná Christus vind in sy herberg plaas. Hy weet nie eens daarvan nie.
Dit is wat selflose omgee doen. Oop harte skep ruimte vir ons Verlosser om daar gebore te word.
Dit is die geskenk wat Vader gee om lewe te hanteer.
Wanneer ons vir Jesus en mense plek maak, kom trek verlossing in.
Dit is omgee, besorgdheid, bekommernis, deernis, sagtheid, ondersteuning, aandag en moeite wat wys dat daar plek vir Jesus onder ons dak is.
Is jy iemand wat omgee, sodat lewe onder jou dak gebore kan word?
Gebed
Here Jesus, dankie vir die omgee-sleutel wat lewe oopsluit. Maak my lewe meer en meer soos dié van die herbergier. Amen.
- Els is ’n oudleraar van Kroonstad.