Omgee-mens gegroet

Skokgolwe het deur die Bethlehem-gemeen­skap getrek ná die skielike dood van ’n welbekende inwoner in ’n motorongeluk.


Skokgolwe het deur die Bethlehem-gemeen­skap getrek ná die skielike dood van ’n welbekende inwoner in ’n motorongeluk.

Huldeblyke het van oraloor ingestroom nadat die 68-jarige Johan Scheepers, ook bekend as Skippies, op 14 April in ’n motorongeluk op die pad tussen Petrus Steyn en Heilbron dood is.

Dié boorling van die Oos-Kaap wat in Alexandria groot geword het, het aan die Hoërskool P.J. Olivier in Grahamstad gematrikuleer. Daarna het hy Landboukunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein studeer. Hy was ’n trotse inwonder van die Kiepersol-manskoshuis.

As jong man was Scheepers ’n kranige rugbyspeler en hy het vir die o.20-Vrystaatspan uitgedraf. Dit is ook in dié tyd dat hy die liefde van sy lewe en vrou, Estie, ontmoet het.

Scheepers het sy loopbaan by Sentra-oes begin en was 20 jaar lank ’n kontrakteur by die BP-maatskappy. Hy het by Vrystaat Petroleum afgetree.

Uit sy en Estie se huwelik is twee kinders gebore: Maretha Price (39) en Jan-Hendrik Scheepers (36), ook bekend as Jakkals.

Sy familie beskryf hom as ’n familieman; ’n omgee-mens wat altyd ander mense se behoeftes bo sy eie gestel het – en hy was lojaal teenoor sy vriende. Hy was ’n hardwerkende man met ’n fyn sin vir humor, en bo dit alles was hy diep gelowig en het hy ’n sterk persoonlike verhouding met die Hemelse Vader gehad.

Scheepers was gaande oor sport, maar dit is rolbal wat hom die naaste aan die hart gelê het. Hy was 37 jaar lank by die Bethlehem-rolbalklub betrokke, het tien jaar lank as president van die klub gedien en was ’n erelid. Hy het ook as die president van die Riemlandstreek en Noord-Vrystaat-rolbal gedien.

Hy lief vir lees en het Wilbur Smith se boeke geniet. Hy het ’n slag met plante gehad en was trots op sy pragtige tuin. Hy kon ook ure in sy werkwinkel deurbring, waar hy verskeie dinge gemaak het.

“Skippies was baie lief vir lekker steak, braaibroodjies, rooi en groen jellie met vla. Sy gunsteling-sêding was iets wat ek nooit sal vergeet nie: Moenie aan ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie,” sê Estie.

Scheepers se roudiens is Donderdag (21/04) om 11:00 in die NG kerk Bethlehem-Noord gehou. Hy word deur Estie, kinders Maretha en Jakkals, skoondogter Janine en kleinseun Ruben Price oorleef.

Estie was ten tyde van die onderhoud met longontsteking in die hospitaal in Bethlehem opgeneem.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.