Die Vrystaatse Vrouelandbou-unie (VVLU) se projek vir 2024 is om na kankerpasiënte uit te reik.
Die Koppies-tak het onlangs geskenkpakkies aan sewe pasiënte uitgedeel.
Die pakkies bevat onder meer gehekelde komberse, vars heuning, spesiale lyf- en liproom, warm slaapkouse en tuisgebakte koekies.
Die tak het ook op 22 Mei sy maandvergadering gehou. Kerilee Boden was die sameroeper van die byeenkoms, met die tema “Huisdekor en interieur”.
Dekorkenner Sandra de Jongh het lede geïnspireer met praktiese, uitvoerbare wenke vir huisdekor.
De Jongh het die nuutste dekortendense gedeel en ook ’n paar praktiese idees gedemonstreer. Al die vroue is aangemoedig en uitgedaag om iets by hul huis met dié idees te verander.
Huisdekor is deur die plaaslike apteek uitgestal.
“Die Koppies-tak groei vanweë die voortreflike leersame vergaderings wat aangebied word. Enigiemand wat daarin belangstel om deel van die plaaslike ‘huisvrou-universiteit’ te word, kan ons gerus kontak – of kom kuier saam op die volgende vergadering,” sê Catrien Koekemoer, voorsitter.