Omarm die lig saam met die donker

Op die nerf-einde van ’n jaar dink ons terug aan ’n uitdagende tydperk wat verbygesnel het.


Op die nerf-einde van ’n jaar dink ons terug aan ’n uitdagende tydperk wat verbygesnel het.

Baie lesse is geleer vir die nodige fokus of oordenking. Die meeste van ons het oorgenoeg wroegings ervaar.

Vir my was 2022 soos ’n rots of klip wat geëts was teen ’n sonsondergang. In 2022 het baie van ons die donker silhoeët van ’n vae beeld gesien wat intimiderend en donker gelyk het.

Eg menslik het ons dan ook daarin vasgeval om die beeld te probeer verklaar, of ’n naam daaraan toe te dig. Uitdagings soos swak gesondheid, te veel reën, te min reën, die dood, hoë lewenskoste, werksverlies, trauma, ongeluk en so aan moes ons trotseer.

Dit ná ’n jaar wat eintlik goed begin het en so met tye die pad byster geraak het.

Wanneer ’n mens net fokus op die rots, die donker “ding” voor jou, mis jy die helder lig daaragter met die speelse kleure van hoop en mooi en dit wat jou goed laat voel. Die kern en belangrike dinge wat vir ons sonder inspanning gegee word: liefde, familie en vriende, geleenthede, die kans om weer te begin, drome en die wete dat dinge altyd beter sal word met tyd.

Dalk is die boodskap van die jaar 2022 aan die jaar 2023 om die lig én donker raak te sien en dit ook te omarm.

Die donker en onbekende gaan nie weggaan nie. Dit hoef egter nie belangriker te wees as al die mooi en seën wat ons elke dag ontvang nie. Al is dit soms ook net in ’n kleiner hoeveelheid.

Soos met alles in die lewe, is groei soms ongemaklik, maar dit is noodsaaklik vir vordering en om vorentoe te beur tot beter en groter dinge in ons lewe.

Want, soos ek dit sien, as ’n mens ophou om net te fokus op die donker dinge, dan raak die donker met tyd meer in fokus, mits jy dit saam met die mooi segmenteer. Onthou, klippe is nodig vir ’n sterk fondament. Al gaan dit met inspanning gepaard, sal die lig altyd die donker oorwin, want tyd, gesindheid en die genade van bo is genoeg.

My wens vir lesers is dat hulle die lig of inspirasie sal ontdek, en dit saam met die donker in iets positiefs sal omskep. Dit is wat die lewe vra.

Ek laat lesers met dié gedagte en wens vir elkeen ’n baie geseënde Kerstyd toe.

Soli Deo Gloria!

You need to be Logged In to leave a comment.