Christa Ikking van Bethlehem is onlangs as die nuwe streekskoördineerder van Afriforum in die Hoogland-streek aangestel.
“Ek besef dat daar baie harde werk vir my voorlê, maar ek is slaggereed vir die uitdaging om gemeenskappe na onafhanklikheid te lei,” sê sy.
“Ek het ook met my eerste besoek aan die onderskeie AfriForum-takke besef dat almal met dieselfde uitdagings te kampe het en saam oplossings sal moet vind.”
Ikking en haar man, Mark, het in 2014 van Pretoria na Bethlehem verhuis.
Sederdien is hulle by die Afriforum-buurtwag betrokke, en Christa is ondervoorsitter van die AfriForum-takbestuur, asook van die Bethlehem-gemeenskapspolisiëringsforum.
Sy het die vlakdrie-noodhulpkursus voltooi en is as deel van die Bethlehem-noodhulpdienste as mediese beampte by skole se sportbyeenkomste betrokke.
As traumaberader vir AfriForum bied sy bystand op ongelukstonele, selfdood-gevalle en rooftogte.
As streekskoördineerder vir die Hoogland-streek het sy tien takke wat sy moet bedien, en sy is dankbaar vir die dinamiese personeel van Afriforum wat een doel voor oë het: om gemeenskappe se lewensgehalte te verbeter.
Veiligheid en sekuriteit in gemeenskappe is vir die organisasie ’n voorkeursaak.
“Afriforum se Bethlehem- en Harismith-tak staan baie sterk.
“Opleiding is vir ons van kardinale belang en lede ontvang opleiding in mediese hulp en protospanopleiding waardeur topinstrukteurs lede touwys maak in toneel- vuurwapen- en gyselaarshantering, onder meer. Dit is baie belangrik dat lede die regte opleiding ontvang.”
Ikking sê sy is trots op die buurwagte, asook die lugvleuelpersoneel wat in die gebruik van hommeltuie spesialiseer, om ook só misdaad te bekamp.