Nuwe lewe in ou denims geblaas

’n Bejaarde inwoner van Kroonstad wie se hande vir niks verkeerd staan nie se vernuftige naaldwerk­vaardigheid om ou denims in sakke te omskep is besig om in ’n klein onderneming te ontwikkel.


’n Bejaarde inwoner van Kroonstad wie se hande vir niks verkeerd staan nie se vernuftige naaldwerk­vaardigheid om ou denims in sakke te omskep is besig om in ’n klein onderneming te ontwikkel.

Die 71-jarige Lulu de Kock, ’n jarelange inwoner van Kroonstad en eggenoot van die welbekende meestersatleet Bobby de Kock, sê dit was tydens die inperkingstyd van die Covid-19-pandemie dat die idee eendag posgevat het om sakke van ou denimbroeke te maak.

Sy het die materiaal geknip en eksperimenteer totdat sy met die ideale patroon vorendag gekom het. Vandag word die sakke in verskillende groottes gemaak.

Daar was geen keer aan haar kreatiwiteit nie, en sy het nou al meer as 100 sakke gemaak. Die meeste het sy as geskenke weggegee, en van die sakke is verkoop.

“Toe mense verneem waarmee ek besig is, het ek ou denimbroeke van oraloor ontvang, en vriende en familie lewer gereeld hul ou denims af,” sê De Kock.

“Sou ek gekleurde denims benodig, gaan krap ek maar by die winkels met tweedehandse ware in die dorp rond.”

De Kock geniet dit om verskillende patrone en lappe saam te voeg, en sy sê elke sak is uniek en daar is nie twee wat dieselfde lyk nie.

Die stokperdjie word nou ’n onderneming met dié dat die sakke aangekoop kan word teen ’n prys van R70 tot R200 per sak, afhangende van die grootte.

Wees op die uitkyk vir De Kock en haar denimsakke op plaaslike markte.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.