Nuwe leier aan die stuur

Die Bethlehem Rotary-klub het op Donderdag 29 Julie sy nuwe president ingehuldig, en die 52-jarige Willie Hattingh van Bethlehem sal dié rol vir die nuwe termyn vervul.


Die Bethlehem Rotary-klub het op Donderdag 29 Julie sy nuwe president ingehuldig, en die 52-jarige Willie Hattingh van Bethlehem sal dié rol vir die nuwe termyn vervul.

Die inhuldiging het tydens ’n spoggeleentheid by die Nins Bistro-restaurant in Bethlehem plaasgevind. Leon van Rensburg, die uittredende president, was ook bedank vir sy diensjaar.

Hattingh is sedert 2010 ’n lid van die Rotary-klub en het aanvanklik by die organisasie aangesluit om ’n direkte verskil in sy gemeenskap te maak.

“Die Bethlehem Rotary-klub is ’n gevestigde instansie wat by die waardes en gebruike van Rotary Internasionaal inpas. Ons leef in ’n tyd van voortdurende veranderinge en daarom moet ons organisasie aanpas by die moderne tye.

“Ek glo die feit dat ons by die veranderinge kan aanpas, die sleutel tot ons sukses en voortbestaan is.”

Die Bethlehem-tak se jaarlikse projekte en verskeie fondsinsamelingsprojekte is ten bate van die plaaslike gemeenskap, soos die kinderhuise en ouetehuise. Alle opbrengs van hierdie projekte word streng gekontroleer om te verseker dit word vir die gemeenskap aangewend.

Hattingh se termyn het reeds op 1 Julie begin en sal einde Junie 2024 verstryk.

Hy is gebore en getoë in Bethlehem, en is die eienaar van Bethlehem Karavane. Hy is getroud met Annalene, die skoolhoof van die Fouriesburg Intermediate School. Die egpaar het twee seuns X WJ (22) en Robbie (20).

  • Hattingh sê hy is dankbaar vir die Bethlehem-Rotariërs wat hul vrye tyd opoffer om ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Een van die Rotary-klub se geldinsamelingsprojekte, die Plaaskraal-ete, sal op Sondag 23 Julie by die Bethlehem-gholfklub plaasvind en belangstellendes kan kaartjies by Hattingh of ander lede koop. Hy sê ook mense moet nie van die jaarlikse ghong-skietkompetisie vergeet nie.

Besoek die Facebook-blad Bethlehem Rotary Club vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.