Kongresgangers op die plaas van Danie Slabbert, ’n boer van Reitz wat herlewingslandbou beoefen.Foto’s: Madli Grobbelaar



Landbouweekblad
se vierde herlewingslandboukonferensie is op 7 en 8 Maart in Reitz aangebied.

Verskeie sprekers het die belangrikheid van dié nuwe denkrigting in boerdery beklemtoon.

Ané Loggenberg van InteliGro, ’n maatskappy wat op gespesiali­seerde plantvoeding­-oplossings fokus, het die grond-ekosisteem as die hartklop van grondgesondheid en volhoubare herlewingslandbou beskryf.

Verder is die verskeie kenmerke van boerdery, die omskakeling na herlewingsboedery en die volhoubaarheid daarvan deur kundiges bespreek.

Hoewel die oorgangsfase na die nuwe denkrigting ’n tydsame proses kan wees, sal die organiese en holistiese benadering op die lange duur meer winsgewend as konvensionele boerderymetodes wees.

“Dit kan sewe tot tien jaar neem voordat volhoubare herlewings­landbou winsgewend en toepasbaar sal wees,” het die ekonoom Mary Maluleke van Asset Research gesê.

“Tog sal dit in die toekoms vir boere baie meer voordelig wees.”

Kongresgangers het die plaas van Danie Slabbert, ’n boer van Reitz wat herlewingslandbou beoefen, besoek. Daar het Frits van Oudtshoorn, ’n graskenner, die invloed van ultrahoëdrukbewyding verduidelik. ’n Demonstrasie oor ultrahoëdigtheidskuiwe het gevolg en DF Fyfer, ’n boer van Vryburg, het vertel hoe ’n funksionele veldbees lyk. Daarna het dr. Ademir Calegari, ’n Brasiliaanse gewasspesialis, en Adrian Bignell, ’n boer van Zambië, geen­bewerkings­­metodes bespreek.

Ernst Bezuidenhoudt en Handré Schoeman, saaiboere van Ugie in die Oos-Kaap, het reeds 10% van hul boerdery na herlewings­landbou omgeskakel.

Hoewel hulle nog nie kan sê hoe voordelig dit is nie, voel hulle sterk dat hulle nou in die regte rigting beweeg.

“Op die lange duur sal dit vir ons as boere baie goedkoper en meer volhoubaar wees.”

Pierré de Villiers, ’n boer van Danielsrus wat vyf jaar gelede met herlewingsboerdery begin het, beskou dié metode as ’n voortdurende leerproses.

You need to be Logged In to leave a comment.