Die transaksie tussen Media24 en Novus Holdings is aan die gang nadat die Kompetisiekommissie op 30 Oktober goedkeuring gegee het.
’n Paar belangrike verwikkelinge rakende die gemeenskapskoerante (waaronderVrystaatKroon) wat tot onlangs onder Media24 geval het en nou na Novus Holdings oorgaan, is hiermee bekend gemaak.
Media24 se hiperplaaslike gemeenskapsnuusafdeling, wat 37 uitgawes van koerante met ’n ABC van meer as een miljoen eksemplare per week insluit, sal ononderbroke met bedrywighede voortgaan gedurende die tydperk van oorgang.
Novus Holdings, ’n markleier en een van Afrika se grootste drukproduksiebedrywighede, werk nou saam met die uitgewers van gemeenskapskoerante om te verseker dat alle uitgewersbedrywighede ononderbroke bly. Dit beteken lesers en adverteerders kan voortgaan om die lewering van uitstaande hiperplaaslike nuuswaarde te verwag.
André van der Veen, uitvoerende hoof van Novus, het sy entoesiasme uitgespreek oor die samewerking met die personeel en bestuur van gemeenskapskoerante. Hy gee die versekering dat Novus daartoe verbind is om waarde aan lesers en adverteerders te lewer, en erken die belangrike rol wat gemeenskapskoerante in die samelewing speel.
Esmé Smit, hoofbestuurder van Gemeenskapsnuus, is ewe opgewonde oor die geleenthede wat die oorgang vir die gedrukte, asook die digitale, nuuslandskap bied.
Sy beklemtoon die unieke en gekoesterde plek wat hiperplaaslike nuusmedia in die hart en gedagtes van die gemeenskappe wat dit bedien, beklee. Die oorgang het ten doel om die gehalte van die publikasies te verbeter en te verseker dat hulle toepaslik bly en verbind is met die gedeelde ruimte waarin gemeenskappe woon.
Soos Smit dit gepas stel: “Ons sal voortgaan om daar te wees wanneer die meeste winkeldeure die eerste keer oopmaak; verslag doen oor plaaslike sport, skolenuus, munisipale nuus, plaaslike geleenthede; en altyd lesers inlig oor opbouende en ook enige onsmaaklike praktyke in ons gebiede. Ons sal voortgaan om ons doel te dien, naamlik om ’n ware vriend vir elke huishouding in ons verspreidingsgebiede te wees.”
Die plaaslike koerante wat by die transaksie ingesluit is, bedien verskeie streke, insluitend die Oos-Kaap, die Vrystaat, die Noord-Kaap, die Bolandstreek, en die Kaapse Skiereiland en township-gebiede van Kaapstad.