Note val sag op die oor

Die klassiekemusiekfees Laudate omnes gentes, wat Saterdag in Kroonstad aangebied is, het die gehoor in vervoering gehad.


Die klassiekemusiekfees Laudate omnes gentes (Prys die Here, alle nasies) is uit ’n keur van gehalte-musiek saamgestel, en musiek­liefhebbers is meegevoer met talle hoendervel–oomblikke.

Saterdag het groot name in die Suid-Afrikaanse klassieke­musiekbedryf ’n sielvolle en hartverblydende uitvoering in die NG kerk Kroonstad-Noord aangebied.

’n Feestelike atmosfeer het geheers, met bykans 500 gehoorlede wat die geleentheid bygewoon het.

Die uitvoering het verskeie hoogtepunte opgelewer, en die gehoor is boonop betrek om die laaste verse van die opening- en afsluitingstukke saam te sing.

Dié musiekfees is die geesteskind van die gemeente se orrelis Isabel Kruger, wat ook die dryfkrag agter hierdie geleentheid was.

“Die doel van die uitvoering is drieledig. Eerstens om God vir die gawe van musiek te bedank; tweedens om geld in te samel om ons gemeente se orrel in haar volle glorie te herstel; en derdens om ’n broodnodige konsertgeleentheid vir die publiek te skep wat uitgehonger is vir gehalte-musiek,” sê Kruger.

Sy is bygestaan deur die komponis Marais van den Berg van De Aar in die Noord-Kaap. Benewens die skep van vier oorspronklike komposisies op die program, was hy ook verantwoordelik vir al die musiekverwerkings.

“Ek en Isabel het mekaar op die sosiale media raakgeloop en ons het begin gesels. So met die gesels het die idee van ’n musiekfees posgevat en ná vyf maande se intense werk deur myself, Isabel, die sangers en instrumentaliste kon ons met trots aan musiek­liefhebbers Laudate omnes gentes bring,” sê Van den Berg.

Die sopraan Sonica Rickinson, mezzosopraan Tracey-Lee Booyens, tenoor Amogelang Lebethe en baritons Andries Aldrich en Deon de Jager is bygestaan deur ’n 11-stuk-orkes van fluit (Carla en Carel Steyn), klarinet (Brian Nelson en Hendri Lemmer), saksofoon (Andries Mostert en Charl van der Merwe), trompet (Carlo Wright en Jan Brak), viool (Bambie Heiberg) en altviool (Salomie Viljoen), asook orrel (Isabel Kruger en Marientha Brak).

Die musikante het Vrydag en Saterdagoggend voor die uitvoering die eerste keer saam gespeel.

Elkeen betrokke het op sy eie geoefen, en toe hulle die eerste keer saam speel, het alles net in plek geval, meen Kruger en Van den Berg.

Kruger sê die fees is goed ontvang en dit kan dalk die begin van vele ander in die toekoms wees. Gehoorlede het die musikante se lof besing en op die sosiale media het dit gegons oor dié eerste en baie suksesvolle musiekfees.

You need to be Logged In to leave a comment.