Nie een stortingsterrein in die VS wetlik geskik

Van die 25 stortingsterreine in die Vrystaat wat deur AfriForum geoudit is, was nie een op nasionale peil nie.


Van die 25 stortingsterreine in die Vrystaat wat deur AfriForum geoudit is, was nie een op nasionale peil nie.

In ’n verslag wat Woensdag (20/07) uitgereik is, sê die organisasie kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, moet ’n stortingsterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Alta Pretorius, AfriForum se distriks­koördineerder vir die Mooirivier, sê dat die terreine in die Vrystaat in ’n haglike toestand is en dat dit hoofsaaklik toegeskryf kan word aan munisipaliteite wat nie hul plig nakom nie.

Sy sê weens die wanbestuur is daar nie geld wat aangewend kan word vir die rehabilitasie en onderhoud van stortingsterreine nie en meen ook dat die omgewing erg hierdeur besoedel word.

Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê die mees algemene kwessies wat AfriForum ten tyde van die oudit opgemerk het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine.

“ ’n Deel van die probleem is dat daar nie bevoegde mense in die betrokke poste aangestel word nie. Dus is daar onkundigheid oor die bestuur van die sortingsterreine.”

Die organisasie voer ook aan dat die verval van munisipaliteite aan die orde van die dag is en dat dit ooglopend is dat veral die kleiner munisipaliteite onder grootskaalse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die afgelope twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, en haar span vergader.

Uit die vergaderings was dit duidelik dat onvoldoende kommunikasie tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede bestaan. Dit kan interpreteer word as ’n bewys dat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die departement van bosbou, visserye en omgewingsake nie met mekaar kommunikeer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.