Net as van talle hektaar oor

Die Vrystaatse departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake het op Maandag 15 Julie bevestig dat ongeveer 8 000 ha veld in die brande by Clarens verwoes is, asook vier gastehuise.


Die Vrystaatse departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake het op Maandag 15 Julie bevestig dat ongeveer 8 000 ha veld in die brande by Clarens verwoes is, asook vier gastehuise.

Stormsterk wind het nagmerrie­omstandighede geskep vir brandbestryders wat die vorige week veldbrande in die Noord- en Oos-Vrystaat onverpoos moes bestry.

Verwoestende veldbrande het op Sondag 7 Julie en 8 Julie in die Bethlehem-, Fouriesburg-, Kestell-, Clarens- en Kroonstad-omgewings gewoed.

Brande wat te midde van stormsterk wind en uitermatige droë toestande ontstaan het, het brandbestryders laat bontstaan om die vure onder beheer te kry.

Nooddienste en gemeenskaps­lede het onverpoos saamgewerk om die brande te te blus en om diere en eiendomme daarteen te beskerm.

Herman Maree, voorsitter van die Bethlehem-brandbestrydings­vereniging, sê vyf brande is om Bethlehem aangemeld en 4 368 ha, waaronder 60 ha by Wolhuterskop en 600 ha by die voëlreservaat buite Bethlehem, het in die slag gebly.

In Clarens het sewe brande ongeveer 6 633 ha verwoes, en met die vyf brande by Fouriesburg is 1 164 ha afgebrand. By Kestell is twee brande aangemeld, waarin 555 ha afgebrand is.

“Die brande, wat meestal weens natuurlike oorsake ontstaan het, het groot verwoesting gesaai – en ongeveer 4 200 bale voer is ook vernietig. Ons vermoed wel brandstiging was moontlik die oorsaak in van die gevalle,” sê Maree.

Ilze Venter van die Moqhaka-brandbestrydingsvereniging in Kroonstad het bevestig dat die eerste brand buite Kroonstad op die N1 noord van Kroonstad ontstaan het en die tweede brand op die Vredefortpad.

Die brand het vermoedelik weens ’n vuur by die stopplek langs die pad ontstaan en is deur die wind in die rigting van die Shell Ultra City-motorhawe buite Kroonstad aangeblaas.

“Die Moqhaka-brandweer, die verkeersdepartment, asook private brandbestyders het ingespring,” sê Venter.

Die LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, Elsabé Rockman, het op 8 Julie die Bethlehem-omgewing besoek om ’n geraamde skadebepaling te doen.

Die publiek word gemaan om uiters versigtig in die brandseisoen te wees om wegholveldbrande wat verwoesting kan saai te voorkom.

Veldbrande het ook Maandag in Ladybrand uitgebreek, en owerhede en boere van die plaaslike gemeenskap het die vure bestry.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.