Aandagtig sit en hou ek die verskillende voëls in my tuin dop nadat ek van ’n voëlkyker verneem het dat daar tot 20 verskillende spesies in jou tuin opgemerk kan word. Ek probeer dié feit staaf, hoewel ek nou nie juis veel hiervan weet nie.
So hier en daar herken ek van die voëltjies, aan hul voorkoms of uit wat ek moontlik gelees of van gehoor het.
Kyk, die vinke ken ek darem en ek het meer as een keer die flukse voëltjies al dopgehou. Hulle kan vir jou ’n stewige nessie kunstig verweef en is bouers van formaat.
Terwyl die vinke nes bou, vlieg daar ’n paar kwetterende muisvoëls op en af asof hulle ernstige sake bespreek, maar ook amper asof hulle nie juis weet wat om te doen nie.
Dis heerlike lente en die swaeltjies en mossies maak ook hul opwagting vir die somer.
Ek probeer oplet hoeveel verskillende soorte voëltjies ek kon raaksien. Weet nie of ek my misgis het nie, maar ek glo ek kon so ses verskillende spesies identifiseer. Sommer ’n lekker miernes van bedrywighede so vroeg in die lente, en die gesang van voëls maak die tuin ’n lushof.
Ek het wel opgemerk hoe al die verskillende spesies saam in een tuin hul besig kan hou sonder om met mekaar se bedrywighede in te meng.
Vreedsaam en rustig word daar onder die helder, blou hemelruim gewerskaf. Ek glo en vertrou hulle is ook almal opgewonde om die aanbreek van ’n nuwe seisoen tegemoet te vlieg.
Dit laat my dink aan ons kleurvolle land met sy groot verskeidenheid mense en kulture. As ons maar soos die verskillende voëlspesies saam in ons paradys in vrede kan woon en werk, kan dinge dalk minder somber en donker voorkom.
Kenners reken voëlkyk is die grootste stokperdjie wêreldwyd, en ek besef waarom. Ons as mens onderskat die tingerige diertjie se vermoëns en besef nie dit is wyshede wat ons van hulle kan leer nie.