Die 23-jarige Aidan Shields is as die Bethlehem-Tafelronde 60 se nuwe voorsitter verkies.
Tydens ’n spoggeleentheid op Vrydag 16 Februarie in Bethlehem, is Shields as die voorsitter vir die 2024-termyn aangewys.
Hy volg in sy pa, Alwyn Shields, se voetspore wat ook vir jare by Tafelronde 60 betrokke was en ook as voorsitter gedien het.
Shields hoop om soos sy pa as Tafelaar ook ’n reuse verskil in die Bethlehem-gemeenskap te maak.
- Hy beplan vir sy termyn as voorsitter om ’n verskeidenheid indrukwekkende gaste deur die jaar te ontvang wat ’n positiewe impak kan maak en wil graag die ledetal van Tafelronde 60 dié jaar uitbrei. Die jong voorsitter is gebore en getoë in Bethlehem en is werksaam by die landboumaatskappy Syngenta in die stad.
Shields is ’n Tafelaar vir die afgelope vier jaar en het die leisels by Ruan Kok, voormalige voorsitter, oorgeneem.