Verlede week het pres. Cyril Ramaphosa die vlak 1-inperkings­maatreëls wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, verslap. Die land wag nou om oor die nasionale ramptoestand te hoor.

Op 15 Februarie sal landburgers weet of dié toestand opgehef of verleng sal word.

Die maatreëls bepaal nou dat die isolasietydperk vir mense wat positief toets van tien na sewe dae verminder is. Mense wat positief toets maar nie simptome het nie, hoef nie te isoleer nie. Wanneer iemand in aanraking was met iemand wat positief getoets is en hulle nie simptome toon nie, hoef hulle ook nie te isoleer nie.

Dat meer as die helfte van die bevolking ingeënt is en mense immuniteit weens die siekte opgebou het, is volgens medici redes waarom die vlak 1-maatreëls verslap is.

Is dit dan moontlik dat die einde van die uitmergelende Covid-19-pandemie wink?

Hoewel kenners beweer dat die pandemie moontlik aan die afneem is, het die geskiedenis al bewys dat dit bykans onmoontlik is om ’n besliste einddatum aan ’n pandemie te koppel. Die einde van enige pandemie of epidemie deur die eeue heen was uitgerek en onreëlmatig.

Ons kan seker met versigtige optimisme sê dat die pandemie wel ’n afwaartse neiging toon. Maar, soos met vorige pandemies, kan stampe en stote verwag word voordat dit onder beheer is.

You need to be Logged In to leave a comment.