Naasbestaandes, inligting oor lyke buite Heilbron gesoek

Die polisie in Heilbron is dringend op soek na inligting oor twee ongeïdentifiseerde lyke wat in afsonderlike voorvalle buite die dorp gevind is.


Die polisie in Heilbron is dringend op soek na inligting oor twee ongeïdentifiseerde lyke wat in afsonderlike voorvalle buite die dorp gevind is.

Die eerste lyk wat gevind is, is dié van ‘n swart man van sowat 30 jaar oud. Hy is op Maandag 15 Mei deur ‘n verbyganger op die R57-pad ongeveer 15 km van Heilbron onderweg na Petrus Steyn gevind.

’n Rooi tou was om die man se hande, enkels en kop gebind. Hy het ‘n grys denimbroek, swart-en-grys hemp, ‘n wit serp, swart tekkies met rooi en wit strepe en ‘n swart baadjie aangehad.

In die tweede voorval is ’n lyk in ’n gevorderde stadium van ontbinding op Donderdag 18 Mei naby Heilbron deur ‘n verbyganger gevind. Die geslag, ouderdom en ras is steeds onbekend. Die oorledene was geklee in ‘n grys Puma-sweetpak, rooi T-hemp, asook swart-en-wit Lacoste-tekkies.

‘n Geregtelike doodsondersoek is in altwee sake geopen, en die polisie versoek enigeen wat inligting oor die voorvalle het om sers. Mosito Letsele by 063-992-7909 of 058-853-5200 te bel, of om die naaste polisiekantoor te kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.