Presies 30 jaar sedert die Kroonstad-tak van Hinterland sy deure die eerste keer oopgemaak het, het dié tak ’n nuwe baadjie aangetrek en dit op 3 Oktober met ’n spoggeleentheid gevier.
“Die opknapping het onder andere die bou van ’n splinternuwe werkswinkel, wat aan John Deere-gehaltevereistes voldoen, behels. Saam met die werkswinkel is die onderdele, heelgoedere en tweedehandse werktuie nou alles onder een dak en meer sigbaar vir klante,” sê Louis Lingenfelder, takbestuurder.
“Ons bied regtig nou ’n eenstopdiens op een perseel aan ons klante. Die pakkamers is ook opgeknap en die winkel is in sy geheel gemoderniseer om by die hedendaagse kleinhandelsomgewing aan te pas.”
Op die geselligheid waarmee die opknapping saam met gaste by die tak gevier is, het oom Johan Minnaar en sy seun, Danie, van Kroonstad die lint geknip om die opening amptelik te simboliseer.
Wat baie spesiaal hieraan is, is dat oom Johan 30 jaar gelede die opening hanteer het toe die hoeksteen van die tak, toe nog Sentraal-Wes Koöperasie, gelê is. Danie is tans die voorsitter van die Senwes-direksie.
Wayne Edwards, besturende direkteur van Hinterland, wat die kleinhandelbeen binne die Senwes-groep vorm, het oor die nuwe aanbiedinge by Hinterland Kroonstad uitgebrei.
“Deltec bied nou aan klante ’n energieoplossing met batterye en sonkrag, en ons ooreenkoms met Dave Sheer het daartoe gelei dat ons nou baie meer omvattend aan ons klante se wapenbehoeftes kan voldoen. Ons het ook nou ’n koffiewinkel waar klante rustig kan sit en ’n koffie en varsgebakte pastei geniet.”
Francois Strydom, uitvoerende hoof van die Senwes-groep, het die nuwe gedenkplaat saam met sy vrou, Ronel, onthul.
Soos wat dit Vrystaters betaam, het die bakke behoorlik onder genoeg vleis gekreun, en daar is heerlik gekuier terwyl Neil Somers die geselligheid met musiek opgehelder het.
- Hinterland op reis, ’n kompetisie waarin ’n klant ’n Toyota Corolla Cross 1.8 XS CVT van R440 000 kan wen, is op dieselfde geleentheid bekendgestel.
Die kompetisie duur tot 31 Desember.
Om in aanmerking te kom, moet ’n klant ware van minstens R1 000 koop, waarvan twee produkte van verskillende deelnemende verskaffers moet wees, of R2 000 op brandstof by Hinterland Fuels uitgee.
Die Hinterland-leuse, “Herontdek dit wat saak maak”, is opnuut deur die gebeure in Kroonstad bevestig.