’n Fees soos g’n ander

’n Entoesiastiese opgewondenheid heers in Kroonstad oor ’n unieke musiekfees, die Laudate omnes gentes, (Prys die Here, alle nasies) wat in die NG kerk Kroonstad-Noord sal plaasvind.


’n Entoesiastiese opgewondenheid heers in Kroonstad oor ’n unieke musiekfees, die Laudate omnes gentes, (Prys die Here, alle nasies) wat in die NG kerk Kroonstad-Noord sal plaasvind.

Die geleentheid is die geesteskind van die gemeente se orrelis, Isabel Kruger, en is daarop gemik om geld in te samel om die kerk se orrel te laat herstel. Sy is die dryfkrag agter hierdie fees, wat belowe om vermaak uit die boonste rakke aan te bied, terwyl God in dieselfde asem geloof word.

Vir hierdie uitsonderlike uitvoering sit Kruger van die groot name uit die Suid-Afrikaanse klassiekemusiek­bedryf saam op die verhoog.

Die sopraan Sonica Rickinson, mezzosopraan Tracey-Lee Booyens, tenoor Amogelang Lebethe en baritons Andries Aldrich en Deon de Jager word bygestaan deur ’n 11-stuk-orkes van fluit (Carla en Carel Steyn), klarinet (Brian Wilson en Hendri Lemmer), saksofoon (Andries Mostert en Charl van der Merwe), trompet (Carlo Wright en Jan Brak), viool (Bambie Heiberg) en altviool (Salomie Viljoen), asook orrel (Isabel Kruger en Marientha Brak).

Die orrel staan sentraal in elke stuk wat uitgevoer word.

Kruger word bygestaan deur die komponis en verwerker Marais van den Berg. Die twee het mekaar op ’n groep vir musikante op die sosiale media raakgeloop en saam besluit om die projek aan te pak.

Op die program is vier van Van den Berg se oorspronklike werke.

Die program word geopen met “Feesstuk op Prys Hom, die Hemelvors” en word afgesluit met ’n “Fantasie op Lichtstad”. Albei hierdie werke maak gebruik van die volle orkes en orrel, asook al die soliste.

Wat Feesstuk besonders maak, is dat die orrelpart vir orrelduet geskryf is. Van den Berg se kantate “Al het die vyeboom nie gebot nie” vir sopraan, twee trompette en orrel ervaar ook tydens die fees sy Suid-Afrikaanse première.

Op die program is ook Van den Berg se “Melodie Ebraiche”, ’n feestelike stukkie musiek wat Joodse temas gebruik. Hy sal ook met hierdie werke sy debuut as orkesdirigent maak, sê Kruger.

Ander werke op die program sluit in klassieke werke soos Mozart se bekende “Laudate dominum”, Purcell se “When I am Laid” uit Dido and Aeneas en Rossini se “Domine Deus” uit Petite Messe Solennelle in. Musiek uit verskeie musiekblyspele soos die ou gunstelinge “I’ll Walk with God”, “Bring Him Home” en “I Dreamed a Dream” kan verwag word. Geestelike liedere soos “Bless this House”, “Down from His Glory”, “Gesù Bambino” en die bekende “The Holy City” kan gehoor word.

Hierdie werke is solo-, of ensemblesang. Al hierdie verwerkings word deur Van den Berg gedoen, en word deur hom dirigeer.

Kruger en Van den Berg sal ’n orrelduet, “Aankoms van die Koningin van Skeba” van Handel, speel.

Die musiekfees sal op 20 Mei om 18:00 in die kerkgebou van die NG kerk Kroonstad-Noord, op die hoek van Reitz- en Malherbestraat, plaasvind.

Kaartjies kos R150 en is beskikbaar in Kroonstad by Rellings, Dr. Quintus Fourie, Lily’s Poetry en by die kerkkantoor. Toegang is gratis vir kinders jonger as 13 jaar.

You need to be Logged In to leave a comment.