Museum-uitstappie verryk en verras

Die NG kerk Bethlehem-Oos se senior bediening, Klub 70, het die Bethlehem-museum op 19 Februarie besoek.


Die NG kerk Bethlehem-Oos se senior bediening, Klub 70, het die Bethlehem-museum op 19 Februarie besoek.

Lede van die museumkomitee het die besoekers ontvang en in die museum rondgewys, en staaltjies is gedeel.

Een hiervan is dié van Neels Moller wat Maritha Swanepoel gevra het om na artefak nr. 1205 om te sien. Die skenking is op 3 Januarie 1990 deur Moller aan die museum gedoen, met die beskrywing: “First Field Dressing in sakkie. Union of SA Defence Force 1942. B. Owen Jones, Ltd. Skenker: C.J.D. Moller, Waterbokstraat 24, La Provence, Bethlehem.”

Moller was oorbluf dat die skenking van 35 jaar gelede steeds in die museum bewaar word.

Op haar beurt wou Joey Ungerer weet van watter land die blou porselein-eetstel is wat deur ’n ene mej. Meets geskenk is. Dit was inventaris nr. 144 Z ’n vleisbord, twee groente-opskepbakke en ’n souspot. Die beskrywing lees: “Sunday morning, WH Grindley, Staffordshire, England. Skenker: mej. C. Meets, Sebastapol, Bethlehem. Geskenk in Januarie 1964.”

“Die museum is ’n besoek werd en ons as Bethlehemiete kan met reg trots wees daarop. Die uitstallings is netjies en met sorg gegroepeer en elke artikel is deeglik beskryf,” sê Helena Kriel, wat die geleentheid bygewoon het.

“ ’n Mens kan nie anders nie as om te sê dat ons erfenis vir ons mooi is en dat dit daar in die museum vir ons bewaar word. Dus salueer ons die klein groepie mense wat met ywer die museum ingerig het, dit in stand hou en onbaatsugtige diens daar lewer.”

Nadat die museum besoek is, is daar gesellig rondom tee en verversings in die Stasiekafee gekuier.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.