Munisipale werkers se bywoning ’n teleurstelling

Skaars 100 werkers van die Moqhaka-munisipaliteit het Vrydag (19/08) vir ’n inligtingsessie van die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad, die Valke, opgedaag.


Skaars 100 werkers van die Moqhaka-munisipaliteit het Vrydag (19/08) vir ’n inligtingsessie van die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad, die Valke, opgedaag.

“Ek is baie teleurgesteld oor die swak opkoms vir die inligtingsessie deur die Valke, en ek vra nederig om verskoning aan ons besoekers. Sal alle departements­hoofde asseblief jul personeel beveel om nou die sessie by te woon,” het adv. Mzwakhe Mofokeng, waarnemende munisipale bestuurder van die Moqhaka-munisipaliteit, beveel.

Nadat nog van die werkers opdrag gegee is om die sessie by te woon, was eindelik net 208 van die 800 werkers teenwoordig.

Gen. maj. Mokgadi Bokaba, hoof van die Valke in die Vrystaat, het gesê dat werkers verantwoordelikheid vir hul dade moet neem en het elkeen genooi om inligting wat korrupsie kan voorkom anoniem aan te meld.

Sy het gewaarsku dat die besoek nou vriendskaplik was, maar dat ’n volgende besoek ’n ander prentjie sou skets.

Kol. Nkosi Booi het daarna ’n voorlegging gedoen om werkers oor die gevare en nagevolge van korrupsie in te lig.

Daar is veral klem gelê op tenderbedrog en die aanstel van personeel wat nie aan ’n pos se kriteria voldoen nie.

Kapt. Segola Gadibolae van die Valke het gewaarsku dat mense nie die inligting ligtelik moet opneem nie.

Madli Grobbelaar

You need to be Logged In to leave a comment.