Motorspekulant doodgeskiet

Flippie Wessels (27), ’n motorspekulant, is Donderdagaand in Meyerton doodgeskiet.


Flippie Wessels Foto: Facebook

Flippie Wessels (27), ’n motorspekulant van Bethlehem, is Donderdagaand in Meyerton doodgeskiet.

Sy pa, Drikus Wessels, sê Flippie het hom Donderdag omstreeks 15:00 gebel en gesê hy gaan na ’n gebruikte motor in Meyerton kyk. Flippie het met gebruikte motors gespekuleer.

Anton Pienaar en Natasha le Grange het saam met hom na Meyerton gery.

Volgens Drikus het hulle omstreeks 18:00 by die huis gekom waar hulle na die motor sou gaan kyk. Skielik het vier mans hulle met vuurwapens oorval en Flippie het toe sy eie vuurwapen gebruik en teruggeskiet.

Drikus sê sy seun het voluit gelewe en het goeie dinge vir die mense rondom hom gedoen.

Kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, het gesê die voorval het in Boundaryweg by Ophir Estates in Meyerton gebeur.

Hy sê die verdagtes het gevlug sonder om iets te steel. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Dlamini sê Wessels is in sy rug en skouer gewond en het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Vriende en familie het vandag vroeg reeds hul medelye op Facebook betoon en foto’s en herinneringe van hom gedeel.

Sy broer Johan het geskryf: “Jis ou . . . Jy gaan gemis word!! Handel net die sh*t daar bo . . . Peace out ou!!”

Natasha la Grange het op Flippie se Facebook-profiel geskryf: “Die 3 maande saam jou, was die beste tyd van my lewe. Ek is lief vir jou Flippie Wessels – Rus in Vrede my Hero.”

Marinda Groenewald skryf: “Ai ou Flipper . . . ons almal het saam grootgeword en min het ek geweet dat ek jou laaste keer sou sien 2 naweke terug, ons gaan jou mis & jy was so awesome mens!!! Rip, jy is veilig by Liewe Jesus nou . . .”

Karmen Cloete skryf: “My hart is so seer ou Flippie Wessels, my ou maatjie flipper. Jy sal vir altyd onthou word! Jy was ’n wonderlike mensie. R.I.P.”

Attie Kapp skryf: “My Hart is stukkend. Gaan jou baie mis my vriend. Rus sag Jou Legend . . .”

Flippie word ook deur sy ma, Erika Venter, en nog ’n broer, Drikus, oorleef. Hy was ’n oudleerling van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.