Geesdriftiges van veteraanmotors kan hulle binnekort verlustig in vanjaar se Bloemnuus Cars in the Park-uitstalling by die Martie du Plessis-skool in Bloemfontein.
Volgens René Greenland van die OVS-veteraanmotorklub is dié jaarlikse motoruitstalling reeds 33 jaar aangebied. Weens die Covid-19-pandemie is dit egter in 2020 en 2021 afgelas.
“Ons doel met die byeenkoms is om motorgeesdriftiges die geleentheid te bied om hul liefling-motors aan die publiek te vertoon. Die uitstalling sluit in veteraanmotors van ons klublede, asook dié van individue en spesifieke handelsmerkklubs soos Volkswagen.”
Die OVS-veteraanmotorklub is 57 jaar gelede in Bloemfontein gestig deur geesdriftiges wat veteraanmotors vertroetel en as ’n stokperdjie herstel.
Die klub het 57 lede in en om Bloemfontein en word bedryf deur die South African Vintage and Veteran Association, die sambreelvereniging vir dié tydverdryf.
Byna 5 000 mense het die uitstalling in 2019 bygewoon, met meer as 500 motors wat besigtig kon word.
“Die klub skenk ’n groot deel van die toegangsgeld aan ’n verskeidenheid liefdadigheidsorganisasies in die Vrystaat, insluitend die Martie du Plessis-skool waar die geleentheid aangebied word.”
Benewens die motoruitstalling sal kuns- en kosstalletjies en ’n kroeg beskikbaar wees. ’n Speelpark vir kinders en ’n uitstalling van modeltreintjies kan ook verwag word.
- Die Bloemnuus Cars in the Park-uitstalling vind op Maandag 2 Mei van 08:00 tot 16:00 op die Martie du Plessis-skool se sportterrein plaas. Toegang kos R30 vir volwassenes en R10 vir kinders.