Moqhaka onder die ontleedmes

Pres. Cyril Ramaphosa het ’n proklamasie onderteken vir ’n ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na ’n gewapende veiligheidsdiens by die Moqhaka-munisipaliteit in Kroonstad.


Pres. Cyril Ramaphosa het ’n proklamasie onderteken vir ’n ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) na ’n gewapende veiligheidsdiens by die Moqhaka-munisipaliteit in Kroonstad.

Die ondersoek gaan oor die verkryging en kontraktering van die gewapende veiligheidsdiens vir dié beleërde Vrystaatse munisipaliteit wat Kroonstad, Renovaal, Steynsrus, Vierfontein en Viljoenskroon bedien.

Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, sê proklamasie 163 van 2024 magtig die SOE om ondersoek in te stel na bewerings van ernstige wanadministrasie by die Moqhaka-munisipaliteit.

Die doelwit is ook om finansiële verliese te herwin wat die staat of die munisipaliteit as gevolg hiervan gely het.

Die proklamasie magtig die SOE om ondersoek in te stel na die verkryging en kontraktering van gewapende veiligheidsdienste vir die munisipaliteit.

“Die SOE sal ook ondersoek instel na enige ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose of vermorste uitgawes wat deur die munisipaliteit of die staat aangegaan is.”

Kganyago sê die omvang van die ondersoek sluit ook enige onwettige of onbehoorlike gedrag van amptenare of werknemers in asook van diensverskaffers of enigiemand anders wat die belange van die publiek ernstig kon geskaad het.

Die ondersoek moet ook vasstel of enige party openbare geld onwettig bekom of uitgegee het.

Dit kom ná bewerings van onwettige en onbehoorlike optrede tussen 1 Januarie 2019 en 12 April 2024, die datum van die publikasie van die proklamasie, asook optrede daarvoor of daarna wat verband kan hou met dieselfde mense, entiteite of kontrakte wat ondersoek moet word.

Die ondersoek fokus op beweerde wanadministrasie, wanpraktyke, korrupsie en bedrog, maar die SOE sal ook voortydig stelselmislukkings identifiseer en aanbevelings maak om maatreëls te verbeter om toekomstige verliese te voorkom. Kragtens die Wet op Spesiale Ondersoekeenhede en Spesiale Tribunale (die SOE-wet), wet 74 van 1996, sal die SOE enige moontlike misdadige optrede na die Nasionale Vervolgingsgesag vir verdere optrede verwys.

“Die SOE kan ook siviele gedinge in die hooggeregshof of spesiale tribunaal instel om enige verkeerde optrede reg te stel wat ontdek is ten tyde van die ondersoek”, sê Kganyago.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.