Mooimaak in tuin te vinde

Ons almal ken die gesegde: ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Hierdie woorde is ook op die grootste orgaan van ons liggaam, naamlik die vel, van toepassing. As jy ’n gesonde liggaam het, sal jy ook ’n mooi vel hê.


Ons almal ken die gesegde: ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Hierdie woorde is ook op die grootste orgaan van ons liggaam, naamlik die vel, van toepassing. As jy ’n gesonde liggaam het, sal jy ook ’n mooi vel hê.

Buiten dat kruie belangrik is vir gesonde liggaamsfunksies, bespreek ek graag hoe kruie ’n goedkoper alternatief vir jou skoonheids­roetine kan bied.

Die strelende en helende effek van aloe vera help met bevogtiging, behandel sonbrand en vel-irritasie en bevorder die opklaar van aknee.

Neem ’n blaar van dié plant, sny dit dwars oop en gebruik ’n teelepel om die jellie uit te skraap. Die klewerige jellie kan tot twee weke in die yskas gebêre word. Wend die vars jellie oorvloedig aan die aangetaste vel en was ná ongeveer 15 min met koue tot louwarm water af. Die jellie kan twee tot drie keer daagliks aangewend word. Staak die gebruik van aloe vera as jou vel brand of ’n uitslag ontwikkel.

’n Skaaptjoppie gaargemaak met roosmaryn oor die vuur is sinoniem met braai. Dieselfde komponent wat só ’n lekker smaak en geur gee, word vandag in verskeie skoonheids­produkte gebruik. Roosmaryn-suur het verskeie anti-inflammatoriese eienskappe wat help met rooiheid, skilfering en swelling van die vel, bevogtiging asook aknee. Die suur help om skadelike bakterieë teë te werk en stimuleer ook die vorming van nuwe selle deur die produksie van kollageen. Dit is ook goed daarvoor om ’n olierige vel te beheer.

Roosmaryn-water is een van ons oudste tuisgemaakte skoonheidsprodukte, wat al eeue lank vir ’n gesonde kopvel, nuwe haargroei, en mooi, blink hare gebruik word. Donkerkoppe veral kan die water as laaste afspoelwater gebruik of kan daagliks van die water aan die kopvel spuit en goed inmasseer.

Resepte
  • Gooi ’n halwe koppie grof gekapte roosmaryn en twee koppies water in ’n pot met ’n deksel. Plaas dit op die stoof en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte sodat dit baie stadig prut, 10 min lank, en laat dit afkoel. Sif deur, plaas aftreksel in ’n spuitbotteltjie en bêre dit in die yskas. Dit kan daagliks met ’n wattetjie op aknee-vel aangewend word.
  • ’n Halwe koppie roosmaryn met ’n eetlepel heuning en ’n bietjie hawermout, gemeng in ’n voedselverwerker, is die ideale bevogtigings­masker. Wend die mengsel op jou gesig en nek aan, vir 15 min tot 20 min. Was daarna af met louwarm water. Herhaal weekliks.
  • Maak jou eie bevogtigings-olie deur roosmarynolie (te koop by apteke) met ’n draer-olie soos argon-olie te meng. Wend saans aan die vel en droë en beskadigde haarpunte.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.