Moedertaalonderrig ontsluit die wêreld vir kinders

Februarie is Moedertaalmaand en vandag word Internasionale Moedertaaldag gevier.


Februarie is Moedertaalmaand en vandag word Internasionale Moedertaaldag gevier.

Die dag is deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) ingestel om op die belangrikheid van moedertale regoor die wêreld heen en die impak wat dit op kultuur het, te fokus.

Afrikaans.com sê mense dink solank jy jou kan uitdruk sodat ander jou verstaan, is enige taal aanvaarbaar.

Dit is inderdaad as ’n mens verder gaan kyk na navorsing is die bewyse daar dat moedertaal jou kind ’n leervoorsprong gee.

Die redes daarvoor is:

  • Moedertaal vestig die basis vir kognitiewe leer en dus probleemoplossing.
  • Hoe groter ’n kind se woordeskat, hoe beter leser en leerder word die kind.
  • Deur moedertaalonderrig word die gehalte van onderrig verbeter.
  • ’n Mens verwoord jou gevoelens beter in jou moedertaal.
  • ’n Kind verstaan moeilike begrippe in ’n vreemde taal makliker deur moedertaal.
  • ’n Kind hoef nie in Engels skool te gaan om Engels aan te leer nie.
  • Moedertaal bevorder veeltaligheid, mits die moedertaal goed gevestig is.
  • Lande waar die moedertaal die kennistaal is, presteer veel beter.

Hoe maak ek as ouer seker dat my kind se moedertaal sterk is?

“Praat dit! Leef dit! Lees dit!”

  • Praat gereeld met jou kind in jou moedertaal – selfs voor geboorte.
  • Stuur jou kind na ’n skool waar hy moedertaalonderrig kan ontvang.
  • Dring aan op jou reg tot moedertaalonderrig.
  • Lees vir jou kind en brei so sy woordeskat uit.
  • Moedig lees aan. ’n Goeie leser is ’n goeie leerder.
  • Stel kinders bloot aan hul taal en kultuur. Leef in jou taal.
  • Moedig die aanleer van nog ’n taal aan – veeltaligheid open deure.
  • Wees trots op jou taal deur dit te praat en stel so ’n goeie voorbeeld.
  • Respekteer ander se taal en kultuur.
  • Jou moedertaal is wie jy is, dus: Praat dit, leef dit, lees dit.

Afrikaans.com sê suksesvolle probleemoplossing verg kreatiwiteit – die soort kreatiwiteit wat jou:

  • ’n Probleem laat raaksien en die oorsake help vasstel.
  • In staat stel om ’n probleem uit verskillende hoeke te benader om die regte antwoord te vind.
  • In staat stel om jou oplossing in ’n uitvoerbare plan te omskep en uit te voer.

Dit is waar ’n goed ontwikkelde moedertaal en taalvaardigheid so ’n belangrike rol speel. Taalvaardigheid is die sleutel tot sukses, want dit laat jou toe om sinvol te kommunikeer. Dit gee ’n mens ook die vermoë om kreatief te dink, juis omdat ’n mens se begripsvermoë en vermoë om ’n mens duidelik en verstaanbaar uit te druk, en moeilike konsepte te verstaan, soveel makliker in ’n mens se moedertaal of huistaal geskied. Jou moedertaal is die taal waarin jy dink.

Dit word volgens navorsing aanbeveel dat kinders skoolgaan in die taal waarin hulle die vaardigste is, maar ’n tweede taal kan wel van so vroeg as gr. 1 aangebied word, mits die twee tale nie te veel ooreenstem nie.

Afrikaans.com stel voor dat om ’n akademiese taal goed te bemeester, behoort ’n leerling vir ten minste ses jaar moedertaalonderrig te ontvang.

Wat ouers moet weet voordat hulle hul kinders skool toe stuur:

  • Verstaan die belangrike rol van moedertaal in jou kind se opvoeding, veral vir ten minste die eerste ses jaar van skool, maar weet ook dat jou kind die vermoë het om meer as een taal aan te leer.
  • Lees vir jou kind – so word hy blootgestel aan akademiese taal.
  • Kies ’n skool wat veeltaligheid ondersteun, want blootstelling is belangrik sodat jou kind ’n addisionele taal kan bemeester.
  • Kies ’n skool wat kinders toelaat om hulle eie identiteite, kreatiwiteit en kritiese denke te ontwikkel.

Lees meer oor moedertaalonderrig op die webwerf Afrikaans.com.

You need to be Logged In to leave a comment.